
Jaarliks besoek meer as 100 000 besoekers die Bloemskou, wat dit een van die hoogtepunte op die sosiale en landboukalender in Sentraal-Suid-Afrika maak. Sowat 300 uitstallers, 21 landboukampioenskapsbyeenkomste met meer as 6 000 perde, skape en beeste, asook meer as 1 800 kreatiewe handwerkinskrywings vorm deel van vanjaar se skou.
Dit is ’n reuse-ekonomiese inspuiting vir sentraal Suid-Afrika. Die Bloemskou bedien sedert 1883 met trots die landboubedryf in Suid-Afrika – dus die afgelope 139 jaar. In hierdie tydperk is die skou slegs tydens die Tweede Wêreldoorlog nie aangebied nie, en in 2020 en 2021 weens die covid-19-pandemie.
Die Bloemskou se landbou-afdeling het ’n hoogtepunt vir die grootvee-, kleinvee- en perdestoetbedryf geword, asook die voorrangskou vir die aanbied van kampioenskapsbyeenkomste. Vanjaar bars die skou se landbou-afdeling behoorlik uit sy nate met ’n welkome terugkeer deur al die telers en deelnemers na die skouring.
Daar word 21 landboukampioenskappe aangebied, wat insluit die grootste opelug Saalperd-kampioenskap ter wêreld, naamlik die Suid-Afrikaanse Saalperd-kampioenskap, asook nege ander nasionale kampioenskappe en 11 provinsiale of streekskoue.
Meer as 6 000 stoetdiere behoort oor die 11 dae van die Bloemskou op die skouterrein te wees. Tydens die Suid-Afrikaanse Saalperd-kampioenskap sal vier beoordelaars van Amerika die beoordeling behartig.
Mnr. PJ Budler van Fort Worth, Texas, en oorspronklik van Tarkastad in die Oos-Kaap, sal die nasionale Hereford-kampioenskap op 5-6 Mei beoordeel, asook die Angus Breeders’ Choice Jackpot, wat die telerskeuse van die Angusverskampioenskap is, op 4 Mei.
Elite-Geleenthede
Twee van die elite-geleenthede op die landbouprogram sluit in:
- Vleissentraal en SA Stamboek se nasionale bulgroeitoetsklas wat op Maandag 2 Mei plaasvind. Top-bulle van 18 verskillende rasse gaan sake teen mekaar uitspook.
- Die Absa-interraskompetisie vir vleis- en dubbeldoelbeeste, waartydens die 11 deelnemende rasse se wenners teen mekaar meeding.
Die wenners sal die Bloemskou op die nasionale Nampo-ALFA-interraskampioenskap se jaarlikse skou van 29 September tot 1 Oktober verteenwoordig. (Dit is voorheen by die Afridome in Parys gehou.) Dr. Tok Serfontein sal die hoofbeoordelaar wees en mnr. Myburgh Goosen die junior beoordelaar.
Opvoedkundige waarde
Die uitdunrondte van Veeplaas en Toyota SA se jong afslaers- kompetisie word op Maandag 2 Mei aangebied met gaskunstenaar Lizz Meiring, wat self ’n aspirantafslaer is. Die Arksaal het uitstallings van hoenders, kouvoëls, sierduiwe, konynboerdery, ’n mesuitstalling, ’n uitstalling deur Mangaung-brandweer en ’n mini-plaaswerf met ’n miniatuurperdjie, -skapie, Dexter-bees en inheemse bokkies.
Daaglikse demonstrasies vind van 29 April tot 6 Mei om 12:00-13:00 en 17:00-18:00 plaas, en op Sondag 1 Mei en 7 Mei van 12:00-13:00. Die opvoedkundige waarde en gewildheid van hierdie uitstallings neem jaarliks toe.
Die OVK-wolbaaldra-kompetisie vind op 29 April plaas. Die padstaltent het ’n verskeidenheid tipiese plaasstalprodukte. Oorkant die tent word skaapskeerdemonstrasies daagliks van 2-6 Mei aangebied. Die OVK Back to Back-demonstrasie op 30 April vind ook hier plaas. Daar kan besoekers sien hoe die skape geskeer, die wol gespin en met die gespinde wol gebrei word.
Suiwelprodukskou
Die Bloemskou-suiwelprodukskou se beoordeling het reeds op 2 Maart plaasgevind met 228 produkte wat deur 12 instellings ingeskryf is.
Die paneel beoordelaars het groot lof gehad vir die professionele wyse waarop die beoordeling geskied het en dat produkte anoniem en sonder kenmerkende verpakking of uitkenning voorgesit is en beoordeel kon word. Die uitslae sal op 5 Mei tydens die prysuitdeling aangekondig word.
Kaartjieverkope
Om ekstra waarde toe te voeg, geld die volgende spesiale aanbiedinge tydens vanjaar se Bloemskou:
- Voorafaankope kan tot 26 April 2022 om 17:00 teen ’n spesiale tarief by Computicket gedoen word. Hier kan jy R10 afslag kry op jou toegangskaartjie vir ál die dae, buiten vir die halfprys-aanbiedinge.
- Daar is ook 50%-afslag op pretparkpakkette waar R600 betaal word vir 60 kaartjies, waar dit normaalweg vir 30 kaartjies sou wees. Op 4 Mei is daar vir R200 onbeperkte ritte, asook halfprys vir studente. Die gewilde musiekgroep Spoegwolf tree ook daardie dag op. “Meer as 6 000 stoetdiere behoort op die skouterrein te wees.”
- Op 5 Mei sal toegang halfprys wees met die Sing Country-aand deur Juanita du Plessis, Franja du Plessis en Ruan Josh.
Alle optredes van Suid-Afrika se grootste kunstenaars is ingesluit in die Bloemskoutoegangsgeld. Ander kunstenaars wat vanjaar gaan optree, sluit in Refentse, Early B, Snotkop en Francois van Coke. Een van die hoogtepunte vanjaar is die FMX Flight Night-motorfietswaagvertoning op 6 Mei.
Adrenalien sal ook vloei tydens die gewilde ovaalbaanwedren, wat ’n wedren met die gewilde syspanwaentjies insluit, en ook by die BMX-fiets- en skaatsplankvertonings. Ander gewilde aanbiedinge is die Bloem Classic-liggaamsboukompetisie, asook Vodacom se sintetiese ysskaatsbaan en die 29 ritte by die opwindende pretpark.
Kinders kan ook uitsien na die optrede van Lollos. Die hoofvermaak sal vanjaar by die nuwe Coca-Cola-verhoog, met lekker sitplek by tafeltjies, plaasvind. Die ander vertonings vind op die Wimpy-verhoog plaas. Vanjaar sal daar ook 75 sitplekke by die Coca-Cola-verhoog teen ’n minimale koste van R50 per persoon vooraf bespreek kan word.
Meer as 6 000 diere sal oor die elf dae van die Bloemskou vertoon word, die grootste enkele skougeleentheid vir lewende hawe in Suid Afrika. Die 21 landboukampioenskappe sluit die volgende in:
PERDE (5 kampioenskappe — 2 nasionaal) Vertical Signs-hoofarena
Nasionale SA Saalperdkampioenskap | 25-30 April 2022
Miniatuurperd-streekkampioenskap | 29 April 2022 (09:00)
Provinsiale SA Boerperdkampioenskap | 2 & 3 Mei 2022 10:00/08:30 – 20:00)
Nasionale SA Arabierperdkampioenskap | 4 & 5 Mei 2022 (07:00-22:00)
Ruiterpensteek-afdelingskampioenskap | 6 Mei 2022 (07:30-13:30)
KLEINVEE (5 kampioenskappe — 4 nasionaal) BKB-kleinveesentrum
Merino: ope veldskoukampioenskap | 28 & 29 April 2022 (12:00)
Nasionale Vleismerino Super 10-ramskou | 29 April 2022 (09:00)
OVK-wolbaaldrakompetisie | 29 April 2022 (13:00)
Nasionale skaapskeerkampioenskap | 29 & 30 April 2022 (11:00/07:30)
Nasionale Suffolk-kampioenskap | 30 April 2022 (09:00)
OVK Back to Back-marathon | 30 April 2022 (10:00-15:00),
Nasionale Dorper-kampioenskap | 4-6 Mei 2022 (08:00)
BEESTE (11 kampioenskappe — 4 nasionaal) verskeie beesringe
Vleissentraal en SA Stamboek se elite-bulgroeitoetsklas | 2 Mei 2022 (15:00) Voorafbeoordeling: 10:00
Simbra-streekkampioenskap | 3 Mei 2022 (09:00)
Provinsiale Simmentaler-kampioenskap | 3 Mei 2022 (13:00)
Beef Shorthorn-streekskampioenskap | 3 Mei 2022 (08:30)
Nasionale Sussex-kampioenskap | 4 Mei 2022 (09:00)
Angus-telerskeuse-verskampioenskap | 4 Mei 2022 (18:00)
Gewone Charolais-kampioenskap | 4 Mei 2022 (14:00)
Nasionale Angus-kampioenskap | 5-6 Mei 2022 (09:00)
Nasionale Limousin-kampioenskap | 5-6 Mei 2022 (08:30)
Provinsiale Dexter-kampioenskap | 5-6 Mei 2022 (08:30)
Nasionale Hereford-kampioenskap | 5-6 Mei 2022 (09:00)
Provinsiale Santa Gertrudis-kampioenskap | 5-6 Mei 2022 (09:00)
Gewone Braunvieh-kampioenskap| 5-6 Mei 2022 (09:00)
Absa-vleis- en dubbeldoelbees-interraskompetisie | 7 Mei 2022
Benewens die perde, beeste en kleinvee vind die nasionale Jack Russell-skou ook op 30 April 2022 in die Angusbeesring plaas.