
Hoewel mnr. Wimpie Roos reeds geruime tyd die boerdery se leisels oorgeneem het, het mnr. Pieter van Rensburg (75) steeds sy vinger op die pols. Die opgewondenheid van Renso (8) as die vierde geslag wat op Brandwag grootword, is tasbaar. Nes sy oupa, is Renso se grootwordjare hier op die plaas vir hom die lekkerste ding op aarde en vertel hy van die trekker wat hy help bestuur en hoe mooi die mielies en sonneblomme vanjaar lyk na goeie reën hierdie seisoen.
Pieter se dogter, Marisa Roos, bestuur die plaas se administratiewe take en sê haar pa het haar van kindsbeen af geseën met ’n groot liefde vir die grond. “My pa was eers ’n onderwyser, maar het stuk vir stuk grond begin bewerk wat hy geërf het. Hy het toe uitgebrei deur lande te huur en later by te koop. Hy boer nou al 53 jaar voluit!”
Van Rensburg sê sonder genade van Bo en genoeg reën op die regte tyd kan jy alles reg doen, maar steeds niks oes nie. “Ons kry goeie ondersteuning van Pannar af. Ons is ’n goeie span en deel in mekaar se lief en leed,” sê Wimpie. Dié familie is optimisties oor die toekoms, want “kos bly noodsaaklik en ons het ’n agtjarige wat niks anders as ’n boer wil wees nie”.
Kontantgewasse
Die gesaaides bestaan uit witmielies, sonneblom en voersorghum. Die witmielie-aanplantings bestaan uit PAN 5R-891BR en PAN 5R-785BR. PAN 5R-591R word as die toevlugsgebied aangeplant. Die rywydte is 91 cm en die plantestand is gemiddeld 16 000/ha.
“Ons wil meer as 3 t/ha van ons droëlandaanplantings af stroop, maar ons het al tot 6 t/ha gestroop. Ons het ook besproeiingsmielies in ’n sirkel al langs die spoor van die spilpunt geplant. Dit is ongewoon, maar dit werk vir ons. Hier plant ons PAN 5785BR teen ’n plantestand van 34 000/ha,” sê Wimpie.
“PAN 5R-891BR is ’n witmieliebaster en beskik oor die MON89034-stronkboorderweerstandsgene,” sê me. Cornel Ferreira verkoopsverteenwoordiger van Pannar in die distrik Delareyville.
“Hierdie baster is sterk meerkoppig, met die bykomende voordeel van die tweedegeslagstronkboorderbeskermingsgene. Dit is goed aangepas vir alle produksiegebiede, veral die westelike produksiegebiede van die Noordwes-Vrystaat en Noordwes, hoewel dit ook goed presteer in die oostelike produksiegebiede. Dit word sterk aanbeveel as die kern van ’n witmieliepakket, veral in Noordwes en ander dele in die westelike produksiegebiede.”
Twee sonneblombasters, naamlik PAN 7160CLP en PAN 7102CLP, word teen ’n plantestand van nagenoeg 40 000/ha aangeplant. ’n Gemiddelde opbrengs van 2,2 t/ha is gewoon, maar die beste wat hulle al gestroop het, was 2,4 t/ha. Hierdie sonneblombasters bevat die Clearfield® Plus-eienskap en gee die voordeel van ’n goeie alternatiewe onkruidbekampingstrategie.
PAN 7102CLP is ’n enkelkruisbaster en bied goeie opbrengspotensiaal en stabiliteit. PAN 7160CLP is ’n drierigtingkruisbaster wat topprestasies in die Landbounavorsingsraad se nasionale proewe handhaaf. Dit beskik oor buitengewoon goeie opbrengspotensiaal en oessekerheid by alle opbrengsvlakke.
Voersorghum
PAN 868 is ’n laat-blommende sorghum x soedanbaster wat oor die beste opbrengspotensiaal in die voersorghumpakket beskik. Hulle gebruik dit as voerbron vir hul beeste. PAN 868 het ’n hoë suikerinhoud. Hierdie baster se hoëopbrengspotensiaal kom tot sy reg wanneer dit eenmalig toegelaat word om 75-100 cm uit te groei en dan as weiding of in ’n sny- en voerstelsel benut word. Daarna kan dit uitgroei om vir inkuiling of as staande hooi in die vroeë winter (Mei/Junie) gebruik te word.