
Suid-Afrika word sedert 2019 geteister deur uitbrekings van bek-en-klouseer, met rampspoedige gevolge. Vroeër vanjaar het ’n uitbreking van bek-en-klouseer daartoe gelei dat China invoer uit Suid-Afrika opgeskort het van alle produkte van gespletehoef-diere, insluitende wol, beesvleis en ander rooivleisprodukte.
“Hierdie uitvoer dra miljarde by tot die ekonomie,” sê mnr. Louw van Reenen, woordvoerder van die primêre groepering vir rooivleis en lewende hawe, en uitvoerende hoof van die Beefmaster-groep. “Ons is nou in ’n krisisstadium, aangesien bek-en-klouseer mense se lewensbestaan en die bedryf se lewensvatbaarheid bedreig.”
Hy sê dat maatskappye in die bedryf dringende ingryping met wyer bedryfsdeelname versoek het om bioveiligheidsmaatreëls toe te pas, wat baie sal help om uitbrekings van bek-en-klouseer te voorkom.
Besprekings en oplossings
Die primêre groepering vir rooivleis en lewende hawe het onlangs ’n hoëprioriteit-geleentheid gehou vir belanghebbendes in die bedryf om dringende ingryping in die bestuur van sulke siekte-uitbrekings te bespreek.
Die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging, Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), opkomende rooivleisprodusente-organisasie (Nerpo) en die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming was onder diegene wat die vergadering bygewoon het. Dr. Mpho Maja, direkteur van dieregesondheid by die departement, was ook daar.
“Die geleentheid was ’n platform vir die hele primêre groep – van die rooivleisbedryf-dienstesektor tot diegene in dieregesondheidsforums – om konstruktiewe oplossings as ’n kollektief te bespreek. Baie van die oplossings sal ingesluit word in ’n toepassingsplan, of ’n padkaart, om uitbrekings beter te bestuur,” sê Van Reenen, en voeg by dat politieke agendas opsy gesit is.
“Ons is in ’n beter posisie noudat ons toewyding van sleutelbedryfslede en die nasionale regering het om saam te werk om hierdie krisis op te los,” sê Van Reenen.
Hy voeg by dat een van die belangrikste suksesse van die vergadering ’n ooreenkoms was wat die bedryf sal help om die staat by te staan met die inenting van diere in “rooi sones”: gebiede wat die risiko inhou dat vee met bek-en-klouseer besmet kan word.
“Ons word nou toegelaat om veeartse in die private sektor te kry om te help met inentingspogings. Dit is nie voorheen toegelaat nie,” sê Van Reenen. “Hierdie maatreël sal die knelpunte vir kuddegesondheid binne hierdie sones aansienlik verlig.”
Gunstige gevolge
Die internasionale organisasie vir dieregesondheid, wat inligting oor dieresiektes reg oor die wêreld insamel en die inligtingstelsel vir wêrelddieregesondheid in stand hou, het hom op die vergadering daartoe verbind om insette tot die padkaart te lewer, asook om die bedryf te help om sy bek-en-klouseervrye status by dié organisasie terug te kry.
Van Reenen sê nog ’n gunstige gevolg is dat boere, afslaers, agente en alle ander bedryfsdeelnemers saamgestem het dat bek-en-klouseer alle belanghebbendes raak.
“Ons moet as bedryf gesamentlik verantwoordelikheid en aanspreeklikheid aanvaar vir die gesondheid van die kudde. Hoewel dit maklik is om vingers na die regering te wys om meer te doen, kan die krisis oorkom word as alle belanghebbendes – boere, afslaers, voerkrale en almal in die beesvleisverskaffingsketting – saamwerk vir die toepassing van beter naspeurbaarheidstrukture.”