
Reeds drie jaar is me. Estelle de Kock aan die stuur van Hansu Bonsmara-stoetery op die plaas Palmietfontein in die distrik Ventersdorp. Haar pa, Hansie, was die oorspronklike eienaar, maar sy het die boerdery oorgeneem nadat hy oorlede is.
Sy sê die kudde is in 1979 as ’n stoetery geregistreer. “My pa het verskeie toekennings met hierdie kudde verwerf. Hy is onder meer 14 jaar opeenvolgend aangewys as platinum streekswenner deur die Landbounavorsingsraad en Stamboek SA. In 2020 het ons brons en 2021 silwer toekennings verwerf. In 2022 is ons optimisties, en mik ons vir goud, en hou duim vas. Alles gebeur tog met die genade van Bo.”
Voordat sy die plaas oorgeneem het, was De Kock ’n apteker en het sy nog nooit geboer nie.
Ondersteuning
“Ons kinders wou nie graag my pa se harde werk tot niet laat gaan nie. Gevolglik het die familie besluit dat ek logisties die beste persoon is om aan te hou met die stoetery. Ek is in diep waters gegooi en moes vinnig leer swem.
“Daar was ander boere wat gedink het ek sal dit nie maak nie, maar my Skepper, wat ook hierdie pad vir my beplan het, was elke tree saam met my. Ek het ’n wonderlike man wat my bystaan, ’n hardwerkende plaasbestuurder en ’n familie wat my ondersteun.”
De Kock sê sy is uiters dankbaar om met Bonsmaras te kan boer. Die ras is baie goed aangepas.
“Die ras se vleis is van topgehalte met nét die regte marmering. Die speenkalwers se gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) is hoog en dus aanloklik vir voerkrale. Die ras en veral ons kudde se temperament en vrugbaarheid is uitstekend.
“Soms kan kliënte nie glo hoe mak ons bulle is nie. Verder is die ondersteuning wat ek van die Bonsmara SA-beestelersgenootskap af kry ongelooflik. Die genootskap het my van die begin af bygestaan met raad en hulp, en bied kursusse aan vir kommersiële boere en junior keurders, wat my baie gehelp het.”
Dekseisoen
Daar kalf jaarliks ongeveer 400 koeie. Sy handhaaf twee dekseisoene, van Junie tot Augustus en weer van Desember tot Februarie.
Hansu Bonsmara-stoetery handhaaf ’n gemiddelde tussenkalfperiode (TKP) van 395 dae. “Ons het wel kalfprobleme ervaar weens miostatien-homosigotiese diere. Tans gebruik ons hoofsaaklik bulle wat nie die miostatien-geen dra nie, en bestuur die gebruik van miostatien-heterosigotiese bulle versigtig.”
Wanneer dit kom by seleksie, is geboortegemak, groei, koeidoeltreffendheid en vrugbaarheid vir De Kock baie belangrik.
Onderhoud
Bonsmara-beeste kom reg oor Suid-Afrika voor en pas gemaklik in bykans enige omgewing aan.
“Dit bewys dus dat die ras min onderhoud verg. Doserings vorm wel deel van ons immuniseringsprogram. Kalwers word voor speen en ná speen gedoseer.”
Die ekonomie van die ras lê vir De Kock in die koeidoeltreffendheid, vrugbaarheid en GDT van die speenkalwers. “Ons speen op gemiddeld 7-8 maande ouderdom met ’n gemiddelde speengewig van 240 kg – direk van die veld af.”
Die beeste wei op natuurlike weiding, en hulle kry lekke as aanvulling.
Die stoetery word gemeet aan die volgende waardes en is vir De Kock dus baie belangrik.