
By Bloemendal Bonsmaras probeer hulle om so na as moontlik met die natuur saam te werk en die dekseisoene en weidingsprogramme word fyn daarvolgens beplan. “Ons het byvoorbeeld net ’n somerdekseisoen,” sê mnr. Chris Krugell, wat dié stoetery op die plaas Nooitgedacht in die distrik Nigel bedryf. “Die diere wat onder hierdie omstandighede presteer, is waarop die kudde gebou word.”
Hierdie manier van doen sorg vir groot sukses en die jaarlikse Bloemendal Bonsmara-produksieveiling lok wye belangstelling. “Ons is bevoorreg om ondersteuning te geniet van onder meer boere in ons onmiddellike omgewing. Dit is ons teikenmark – kommersiële boere wat onder dieselfde omstandighede as ons boer.”
Die Bloemendal-kudde loop op die Gautengse Hoëveld en is deel van ’n gemengde boerdery waar mnr. Charles Krugell die droëlandsaaiery (mielies en sojabone) behartig, mnr. Frederick Krugell die finansies en Chris die Bonsmaras.
Toe die Krugells besluit het om hul melkbeeste vir vleisbeeste te verruil, was hulle op soek na ’n ras wat aan hul spesifieke behoeftes voldoen.
“Omdat ons glo die waarde van ’n kudde is opgesluit in die vermoë van die koeie om te produseer, was dit vir ons ’n baie maklike keuse om op die Bonsmara te besluit. Die moedereienskappe van dié ras het beslis die deurslag gegee,” sê Chris.
Dit is ook vir hom lekker dat hy van die Bonsmara se voorkoms hou. “Dit is vir ons ’n seën om met dié mooi rooi diere te kan boer en op die manier te kan bydra tot die skepping.”
Omdat vrugbaarheid, soos in enige winsgewende teelkudde, vir hom die belangrikste oorweging is, is reproduksierekords van onskatbare waarde. Daarmee identifiseer hy moederlyne wat hoogs vrugbaar is sodat hy bulle uit daardie lyne kan gebruik. Dit is hier waar die data wat by SA Stamboek verwerk en gehou word, ’n groot rol speel in die Bloemendal Bonsmara-stoetery, wat al sedert 2008 by die organisasie geregistreer is.
“Dit help baie dat ons data altyd op Logix beskikbaar is en dit is veral nuttig in die veld waar jy op jou slimfoon ’n dier se rekords kan nagaan.”
Vir Chris bly visuele beoordeling die primêre oorweging om teeldoelwitte te behaal, maar hy voeg by dat dit uitstekende resultate lewer as dit deur prestasietoesing gerugsteun word.
“Deur dit so te doen kon ons byvoorbeeld ’n koei, CKB13-035, met ’n vrugbaarheidsindeks van 140 in ons kudde identifiseer en as moederlyn vestig,” sê hy.
Hierdie benadering het Bloemendal Bonsmara oor goed gestaan gekom toe sy CKB12-43 in 2021 die LNR Elite Bonsmara-koeitoekenning ontvang het.
Vir Chris is die geheim van ’n suksesvolle kudde nie net data en rekordhouding nie. Hy glo ook daarin om raad by ander te vra.
“Moet nooit aarsel om by leiers in die bedryf te gaan aanklop nie. Jy sal verbaas wees hoe vrygewig mede-beesboere is om hul ervaring te deel. Pas dan die raad toe en skaaf dit na jou eie omstandighede.”
Bloemendal Bonsmara hou op 16 Augustus 2023 om 11:00 sy jaarlikse produksieveiling op die plaas Nooitgedacht buite Nigel. Op aanbod sal 20 stoetbulle en 50 vroulike diere uit die kudde wees.