
Die De Koppen Vleismerinos-veiling word saam deur mnre. Abé Visser en Pierre Hattingh aangebied. “Ons het op die naam De Koppen Vleismerinos besluit omdat ’n ram met ’n mooi kop vir ons albei belangrik is,” sê Visser. Hattingh is van Kransfontein en Visser van Reitz, albei in die Vrystaat.
Hulle gaan ’n klompie SA Vleismerino-ramme en kommersiële ooie aanbied.
“Ons het 50 dragtige tweetandooie en 50 kommersiële, oop volbekooie wat op die veiling beskikbaar sal wees. Dan sal ons sowat 40 ramme aanbied, onder meer potensiële stoetramme,” sê Visser.
Hierdie is die eerste veiling wat Visser en Hattingh saam aanbied.
Die veiling word op Visser se plaas, Rietkuil naby Reitz, gehou. BKB gaan die veiling aanbied. Dit gaan nie aanlyn aangebied word nie.
Visser sê van die teelmateriaal wat te koop gaan wees, is vir hom baie belangrik.
“Ek het 17 jaar lank by mnr. Leon Becker, ’n vooraanstaande boer by Warden, teelmateriaal en ramme aangekoop. Toe kry ek die geleentheid om sy stoetery oor te koop. Hy was vir meer as 30 jaar ’n stoetteler.
“Hy het onder meer die ram Fullhouse geteel. Dit is een van die ramme wat die meeste vir kunsmatige inseminasie gebruik is in Suid-Afrika. Die ram se semen is in verskeie ander stoeterye gebruik. Dis ’n ram wat oor die jare werklik diep spore in SA Vleismerino-geledere getrap het.”
Van Fullhouse se laaste saad is op Hattingh se plaas gebruik met die teling van sy skape. Dus is hierdie veiling een van die laaste geleenthede vir boere om van Fullhouse se seuns in die hande te kry, sê Visser.
Visser is die eerste teler in Suid-Afrika wat toegelaat is om sy kommersiële kudde na ’n stoetkudde op te gradeer nadat die SA Vleismerino-telersgenootskap dit goedgekeur het. Die keuringsproses het in 2017 begin.