
Van ’n sprankelende swembad tot die sny van die grasperk of die aansteek van die braaivleisvuur: Agrimark Aanlyn sal jou aan die gang kry. Met die aankondiging van die amptelike bekendstelling in September het Kaap Agri se uitvoerende hoof, mnr. Sean Walsh, gesê die aanlyn winkel weerspieël die unieke reeks produkte waarvoor Agrimark bekend geraak het.
“Die e-katalogus bevat meer as 40 000 produkte in 25 kategorieë wat wissel van kamptoerusting tot gereedskap, kunsmis tot troeteldierprodukte, verf tot boumateriaal en al die unieke landbou-leefstylprodukte wat die groep bied.”
Uitgesoekte reeks aanlyn te koop
Hier kry jy van ’n skottelbraai tot ’n kabelbinder. Die e-katalogus sluit ook Agrimark se kenmerkende reeks besproeiingsprodukte in, asook spesialisprodukte soos onderdele, bybehore en plaastoerusting van Agrimark Mechanisation.
’n Uitgesoekte reeks van 7 500 produkte is beskikbaar vir aanlyn aankope. Hierdie produkte is in voorraad in die groep se verspreidingsentrum in die Paarl, vanwaar die bestellings uitgevoer word.
“Deurlopende verbetering is deel van enige e-handelsreis, en ons sal aanhou om die reeks items wat aanlyn gekoop kan word, uit te brei,” sê Walsh.
Moeitelose snuffel en koopervaring
Die groep se belegging in nuwe bestuurstelsels vir sy voorsieningsketting werp vrugte af ten opsigte van voorraadbeskikbaarheid, -sigbaarheid en prysstruktuur.
“Klante verwag ’n moeitelose koopervaring, of dit aanlyn of in die winkel self is. Die produkpryse aanlyn stem ooreen met dié van die fisieke winkels. Kliënte kan ook vooraf kyk of ’n bepaalde produk beskikbaar is by hul plaaslike Agrimark. Die aanlyn winkel voorsien ook aan rekeninghouers die opsie om op rekening te koop.”
Tuisaflewering
Agrimark Aanlyn doen landwyd aflewerings deur middel van sy logistiekvennoot, Dawn Wing. Indien ’n gebruiker op ‘n plaas woon, is daar selfs die opsie om ’n digitale plekspykertjie van die plaas se ligging te verskaf om die afleweringsproses te vergemaklik.
“Ons wil hê produsente, families en vriende op enige plek in Suid-Afrika moet voel dat hulle ’n Agrimark op wiele het!”