
Bronkhorstfontein naby Bapsfontein in Gauteng se spilpuntbesproeiing blink in die oggendlig – amper so blink soos mnr. Japie Breedt se glimlag oor sy opbrengste op dié stuk van die familieplaas. Sy pa het die plaas gekoop toe Japie skaars vyf jaar oud was, nadat hul plaas tussen Middelburg en Hendrina deur ’n myn gekoop is.
Die Breedt-boerderytrust op die plaas Bronkhorstfontein is hoofsaaklik toegespits op saaiboerdery. “Ons verbou mielies, sojabone, koring, suikerbone, ertjies en aartappels,” sê Breedt, wat daarvan hou om met die hulp van tegnologie te boer. Die vooruitgang van Pannar se kultivarontwikkeling en prestasie op die lande, maak deel uit van dié tegnologie.
Hy gebruik ook rekenaar- en slimfoontoepassings soos Fieldview® om sy landerye noukeurig te bestuur.
Mieliebasters
Mnr. Zander Labuschagne, verkoopsverteenwoordiger van Pannar in dié gebied, sê al die mieliebasters wat tans vir Breedt aanbeveel word, presteer baie goed. Tog is daar sterre in die verskillende gewaspakkette wat vir hom uitstaan. Die geelmielie PAN 3R-700BR is ’n gunsteling, sê Labuschagne, want dié geelmielie kan op droëland presteer as die reënval goed is en ook goed verspreid voorkom. Andersins kan hierdie baster met aanvullende besproeiing uitstekende opbrengste lewer.
PAN 3R-700BR is ’n ultravinnige baster wat goed aard in die Bapsfontein-omgewing. By die Breedt-boerderytrust is aanvullende besproeiing wel toegepas. Die plantestand was 57 000 plante per hektaar en die gemiddelde opbrengs was 15,88 t/ha gemeet oor 20 ha. PAN 3R-700BR lewer semi-blink geel graan van goeie gehalte.
Dié baster het goeie verdraagsaamheid teen noordelike blaarskroei (witroes) en is goed aangepas vir hoëpotensiaaldroëland en besproeiing. “Ons het goeie reën gehad die afgelope seisoen, maar die verspreiding daarvan was nie ideaal nie. In totaal het ons nagenoeg 950 mm reën in die 2019-’20-seisoen ontvang, maar sowat 300 mm daarvan het binne ’n paar dae op een slag geval.”
PAN 5A-182, ’n droëlandgeelmielie, het sy staal gewys. Breedt wys op sy slimfoontoepassing na die gemiddelde opbrengste en ook na spesifieke landerye se uitskietsyfers. “Ons het 5A-182 op drie lande geplant en het ’n gemiddelde opbrengs van 9,17 t/ha behaal. Die gemiddelde plantestand is 42 000 per hektaar. Dit was ’n goeie jaar, want die langtermyn- gemiddeld van dié baster hier by ons is 8,3 t/ha.” Labuschagne beaam dat Breedt se gemiddelde opbrengste uitstekend is.
“In die omgewing by Bapsfontein en Delmas is die gemiddelde droëlandopbrengs gewoonlik van 6 t/ha tot 6,5 t/ha.” Breedt sê sy beste opbrengs op ’n 22 ha-landery is behaal waar die mielies direk gevolg het op sy ertjie-aanplantings. “Ons het ’n gemiddelde opbrengs van 15,8 t/ha op dié 22 ha-landery behaal. Ertjies is vir ons ’n waardevolle rotasiegewas, want die reste is goed vir grondgesondheid en dra by tot die biomassa van die grond.”
Lonende bone
Breedt plant ook ’n sojaboonpakket van Pannar met PAN 1521R as die staatmaker. Pannar het ’n buitengewone verskeidenheid sojaboonkultivars en PAN 1521R vorm die anker van dié kultivarreeks. Die reeks is saamgestel uit die regte mengsel van ou en nuwe kultivars, wat aan produsente soos Breedt die voordeel van stabiliteit van die bekende kultivars gee saam met die genetiese verbetering wat die nuwe kultivars bied.
Trouens, PAN 1521R is só veelsydig en stabiel dat ’n groot deel van die nasionale sojaboonoes daarmee gelewer word. Labuschagne gesels verder oor die voordele en struikelblokke vir sojaboonprodusente in die omgewing. “Soja presteer goed by Delmas en Bapsfontein.
“Ons kyk na ’n gemiddelde opbrengs van 2,2 t/ha, maar met Pannar se pakkette kan die kerf van 3-3,5 t/ha behaal word.” Breedt het met PAN 1521R ’n opbrengs van sowat 3,85 t/ha behaal en op ’n blok van sowat 45 ha groot het hy opbrengste van 4,7 t/ha aangeteken. Breedt plant ook droëbone en hiervoor verkies hy PAN 148.
“Dit is ’n taamlike ou kultivar, maar PAN 148 is ’n baie stabiele suikerboon en ’n toppresteerder in ons pakket,” sê Labuschagne. Dié suikerbone het ’n opbrengs van 3,58 t/ha gelewer. Breedt het dit ná ’n koringaanplanting geplant.
“Dit was ’n laterige aanplanting op 27 Desember en ook my eerste jaar dat ek suikerbone aangeplant het. Ek dink die mark vir bone word onderskat in Suid-Afrika en ek meen ons kan dit uitbrei. Bone is ’n bekostigbare bron van proteïene wat uiters belangrik is vir ’n groot deel van die bevolking.”
Presisiebestuur
Probleme wat hy en ander produsente in hierdie omgewing moet oorkom, is hael en Sclerotinia, maar, verduidelik Breedt, as ’n plant sterk is met ’n natuurlike vermoë om siektes te beveg en die grond boonop gesond is, kan sojabone siektedruk makliker die hoof bied.
“Ek gebruik wel swamdoders by my sojabone en mielies, want al het die plant inherente toleransie teen siektes, neem dit baie energie op. As ek dus die plant kan beskerm teen siektes, doen ek dit.”
Hy wys dat die berekeninge tussen lande wat behandel is met insekdoder, blaarvoeding en swamdoder teen ’n koste van sowat R800/ha, vir hom sowat 600 kg méér per hektaar lewer. Teen ’n gemiddelde prys van R6 683/ton is die wins per hektaar dus R3 200 méér as wanneer hy geen gewasbeskermingsmiddels gebruik nie.
“Ek het ’n kalkstrooier teen R500 000 gekoop en kon die uitgawe binne ’n jaar verhaal omdat ons toedienings aangepas is by elke hektaar se behoefte. Ek doen ook kaliumregstellings voor ek sojas plant en dan gooi ek nog KCl volgens die behoeftebepaling.” Hy sê dat jy nog met ’n ou trekker oor die weg kan kom, maar dat jy goed moet belê in ’n presisieplanter.
“Dit is een van die belangrikste werktuie op die plaas,” sê Breedt oor hierdie planter wat aangepas is om die pitte so naby as moontlik in die ideale grondvogtoestande te plant. Hiervoor is kapitaaluitleg nodig, maar die opbrengs daaruit is absoluut die uitgawe werd. Wat alles makliker maak, is om ’n toepassing soos Fieldview® te gebruik, wat vir jou presies wys hoe al jou gewasse presteer.
“Só kan ek presiese toediening van kunsmis en kalk met ’n presisiestrooier toepas en ek kan die plantestand vir elke hektaar aanpas na aanleiding van die digitale kaarte wat opgetrek is. Die scouting maps wys vir my in groot detail wat op elke hektaar aangaan en hierdie data bevestig hoe Pannar se produkte presteer.
“Ons gebruik Pannar se produkte al dekades lank en ons ontvang baie goeie aanbevelings deur die produkverteenwoordiger. Ek is trots daarop om Pannar se logo te vertoon en ek kan met ’n skoon gewete sê dat ek met Pannar se kultivars baie beter opbrengste behaal as enige van die ander maatskappye s’n wat ek ook gebruik.”
Hy voeg by dat Pannar se boeredae en die Pannar Extravaganza- geleentheid vir hom goud werd is. “Dit is wanneer ek my bestellings plaas en dan kry ek boonop goeie inligting tydens die geleentheid,” sê Breedt. “Dit word al hoe belangriker om jouself op te skerp met die jongste navorsing en ek volg graag kenners en ander boere wat wys hoe om die genetiese potensiaal van saad binne jou omstandighede te ontsluit.”