
Een van die algemeenste teorieë om gestremde koppe by mielies in Amerika te verklaar, is kouestres – veral as dit gepaard gaan met ’n skielike daling in die gemiddelde temperatuur. Weens die onvoorspelbaarheid van gestremde koppe is die presiese oorsaak en tydsberekening van die stresgebeurtenis wat tot kopvormingstilstand lei, moeilik om te bepaal of te herhaal, ondanks verskillende studies wat onderneem is.
In 2007 het talle berigte oor gestremdekoppe-sindroom uit die mieliestreek in die Midde-Weste in Amerika gekom. Navorsers aan die Purdue-universiteit, in die deelstaat Indiana, het van hierdie voorvalle ondersoek. Hulle het opgemerk dat daar ’n algemene lyn deur baie van die aangemelde gevalle loop: In byna al die gevalle is gewasbeskermingschemikalieë, dikwels hulpmiddels, toegedien.
Dit is duidelik te sien op die foto’s wat as voorbeelde gebruik word. Voordat daarna gekyk word, is dit egter noodsaaklik om te onthou dat die belangrike tye vir ’n mieliekop se ontwikkeling die volgende is:
- V6-V7 = getal rye van mieliekop word vasgelê.
- V15-VT = aantal pitte per ry word vasgelê.
In FOTO 1 is ’n voorbeeld van ’n plant waarop swamdoders saam met ’n benatter twee weke voor blom – V14 (veertienblaarstadium) – gespuit is, en met die simptoom van gestremde koppe. Dieselfde mengsel is op ’n later stadium in VT (pluim) gespuit, met geen simptoom nie.
In FOTO’S 2 en 3 was die aanleg van die koppe aanvanklik normaal, maar die het in gestremde koppe verander. Met ander woorde, die getal rye was klaar vasgelê en bespuiting van óf onkruiddoder óf swamdoder gemeng met iets, moes tussen die tydperk van V7 en V15 plaasgevind het. Omdat die aantal rye tussen V15-VT vasgelê word, was dit moontlik swambespuiting.
In FOTO’S 4 en 5 word ruikerkoppe (“bouquets”) gesien. Dit is mieliekoppe wat by verskillende blaarknope ontwikkel en staan bekend as meerkoppige mieliebasters. Hierdie verskynsel word gekenmerk deur die ontwikkeling van veelvuldige koppe vanaf nodes van dieselfde mieliekop stronk af.
Dit wil voorkom of gestremde koppe hier deur ’n hormoonwanbalans in die plant veroorsaak word.
Mnr. PR Janse van Rensburg is ’n landboukundige verbonde aan Pioneer.