
In ’n La Niña-weerstelsel soos wat tans heers, is graangehalte ’n groot kwessie vir saaiboere. Boere op Mpumalanga se Hoëveld word minder beïnvloed, maar dit beïnvloed wel die gehalte van hul produk, asook die oorhoofse mark.
“In ons gebied plant ons hoofsaaklik geelmielies, dus word ons graangehalte minder beïnvloed. Ek dink egter dis noodsaaklik om daaraan aandag te gee, want uiteindelik is dit ’n kommoditeit wat jy verhandel en dit word in graad 1 verhandel,” sê mnr. Johan Pistorius, eienaar van Wilzak Agri in die Val-distrik. “Die oomblik dat jy ’n seisoen soos hierdie het waartydens graan van graad 3 en swakker in oorvloed gelewer word, het jy ’n swak mark vir die produk.”
Pistorius het met mnr. Jako Benadie, senior landboukundige by Bayer, hieroor gesels op ’n besoek deur die Landbouweekliks-span.
“Ons het verwag dat graangehalte die afgelope seisoen ’n probleem sou wees omdat omgewing die grootste impak op gehalte het. Daar is egter ’n paar ander faktore wat ook daartoe bydra,” sê Benadie. “Ons verwys daarom na die siekte-driehoek, bedoelend daar is bydraende faktore.”
Die eerste is die patogeen. Met mieliegehalte word gekyk na Gibberella en Diplodia. Die volgende punt van die driehoek is omgewing. Die nat weer wat La Niña bring, bevorder hierdie patogene se ontwikkeling en die derde deel van die driehoek is die gasheer, wat in mielies se geval die graan is. Indien enige van die punte van die driehoek vergroot, byvoorbeeld die omgewing raak gunstiger vir die patogeen, dan is jou blootstelling baie groter.
Hoe kan boere risiko's beperk?
“Daar is oplossings waarna ’n mens kan kyk, nie noodwendig ’n spesifieke produk binne ’n bottel nie, maar daar is dinge wat ’n mens kan doen om dit teen te werk,” sê Benadie.
“Aan die omgewing kan jy nie veel doen nie. Die seisoen bring wat die seisoen bring. Jy kan dus konsentreer op die ander twee dele van die siekte-driehoek. Vir die patogeen kan jy wisselbou toepas. Plant ’n gewas waarop die patogeen nie kan oorleef nie. Vir die gasheer moet jy kyk na kultivars wat goeie weerstand teen die patogeen bied.”
Pistorius pas wisselbou toe met sojabone. “Dis ’n baie goeie wisselbougewas wat die patogeensiklus goed afbreek.”
Vir Pistorius is risiko een van die grootste faktore waarmee boere elke dag te doen het. Hy glo egter dat graangehalte nie deel van die risiko moet wees nie.
“Kultivarkeuse is ongelooflik belangrik en saadmaatskappye het ’n verantwoordelikheid teenoor boere om toe te sien dat vatbare kultivars nie mark toe kom nie. Opbrengs is belangrik, maar graangehalte is belangriker.”
Bayer besef die verantwoordelikheid om ’n produk na die mark te bring met die hoogste weerstand.
“Daarom het ons streng kriteria waarteen ons basters meet en ons wyk nie daarvan af voor die baster mark toe gaan nie. Ons doen dit om die produsent tot die maksimum te beskerm,” sê Benadie.