
’n Beginsel van geen verdraagsaamheid is die enigste uitweg met ’n gedugte teenstander soos Palmer-misbredie (Amaranthus palmeri).
Mnr. Wilhelm van Heerden, markontwikkelingsagronoom by Bayer, het onlangs saam met Landbouweekliks by mnr. Rudi Fouché van Potchefstroom besoek afgelê. Fouché voer ’n stryd teen dié onkruid en Van Heerden het gaan kyk watter raad hy kan gee.
“Soos julle kan sien, het ons die normale spuitprogram gevolg, maar ons het steeds hierdie bossie wat ’n probleem is,” het Fouché met die span se aankoms gesê.
Die feit dat Palmer-misbredie weerstand bied teen glifosaat en twee ander onkruiddodergroepe is wat dit so gevaarlik maak.
“Hierdie spesie produseer verskriklik baie saad wat maklik deur voëls, trekkers en werktuie, riviere en kanale versprei word. Sy saadproduksie en die verspreiding daarvan maak dit ’n groot probleem vir Suid-Afrika,” sê Van Heerden.
Palmer-misbredie is ’n nuwe onkruidspesie wat in 2018 die eerste keer in Suid-Afrika aangeteken is. Dit kom van Amerika. Omdat die natuurlike habitat van dié onkruidsoort die droë suidwestelike deel van Amerika is, pas dit in Suid-Afrika goed aan by die meeste toestande in die somerreënstreek.
Ken hom só uit
Palmer-misbredie se waarneembaarste eienskap is die blaarsteel wat langer is as die blaarskyf – selfs waar die blaarsteel gevou word. Die stamkleur is groen, groen-wit of rooierig, of kombinasies daarvan. Stamme en stingels is haarloos.Die blaarvorm wissel van ovaal tot silindries, met sigbare wit are aan die onderkant. Sommige plante het ’n opvallende silwer-pers V-vormige chevron (“watermerk”) op die boonste blaaroppervlak – hierdie eienskap kom egter ook by sekere ander Amaranthus-soorte voor.Vroulike en manlike blomme is op afsonderlike plante. Manlike bloeiwyses voel sag met aanraking, maar vroulike bloeiwyses is hard en stekelrig. Blommetjies van tot 3 mm lank is saamgepak op silindriese bloeiwyses van tot 60 cm lank op die sentrale stam. Die blomkleur is wit of wit-groen. Die vruggie is omtrent 1,5 mm lank. By volwassenheid val die boonste helfte van vrugte af om ’n enkele donkerpers saad van tot 2 mm in deursnit te ontbloot.
Wat is die oplossing?
“Eerstens moet jou algehele benadering reg wees,” sê Van Heerden. “Wisselbou is belangrik. Plant grassoorte soos mielies en sorghum waarmee ons breëblaaronkruide makliker kan bekamp. Daar is meer onkruiddoders wat daarmee kan help,” sê Van Heerden.
“Tweedens moet jy ’n goeie vooropkomsprogram hê om te voorkom dat die saad opkom. ’n Na-opkomsprogram is net so belangrik. Derdens is die skoonmaak van werktuie, trekkers, stropers, spuite, ploeë en selfs jou voertuie noodsaaklik. Dit is om die saadverspreiding na ander landerye te voorkom.”
Indien jy wel Palmer-misbredie opmerk, moet jy die plant verwyder en verbrand.
“Die belangrikste is om dit te verwyder voordat dit saad vorm. Die beginsel van geen verdraagsaamheid om saadproduksie van hierdie onkruid te voorkom, is vir ons die hooftaak.”