
Die antwoord op die vraag “Hoekom Simmentaler?” is baie eenvoudig. Dit is dié ras wat winsgewendheid tot jou waardeketting voeg en die ras wat sinoniem is met kruisteling.
In kruisteling dra die Simmentaler melk, goeie moedereienskappe, ’n funksionele raam, goeie temperament en vrugbaarheid by. Dit alles is goeie eienskappe van die ras.
Uitstekende resultate
Kruisteling met enige ander ras lewer uitstekende resultate. Die rasegte Simmentaler-speenkalf en die kruisteelspeenkalf presteer besonder goed in die voerkraal. Van die voerkrale betaal ’n premie vir hierdie kalwers, wat beslis tot voordeel van die stoet- en kommersiële teler is.
Volgens prof. Frikkie Neser van die Universiteit van die Vrystaat en dr. Michiel Scholtz van die Landbounavorsingsraad kan kruisteling produksievlakke op twee maniere verbeter, naamlik ras-komplementariteit en heterose. Komplementariteit is wanneer een ras se sterk punte die ander ras se swak punte aanvul. Komplementêre kruisteling laat die teler toe om die verlangde kenmerke van twee of meer rasse te kombineer ten einde ’n meer gewenste dier daar te stel, terwyl heterose die prestasievlakke van verskillende kenmerke verhoog.
Kruisteling lei tot verhoogde prestasie sonder veel ekstra insette. Indien dit reg aangewend word, is dit een van die min bestuursmeganismes wat produktiwiteit verhoog en nageslag verbeter, sonder om insetkoste noemenswaardig te verhoog. Danksy komplementariteit en heterose kan produksie baie vinnig verhoog word met kruisteling.
Talle voordele
Voordele van hierdie dubbeldoelras is beslis vrugbaarheid en melkproduksie. Die sukses van kruisteling met die Simmentaler is om koeie te teel wat baie melk het, en hul uitstekende moedereienskappe verseker die goeie versorging van hul kalwers. Benut hierdie basterkrag om swaarder speenkalwers vir voerkrale te teel.
Eienskappe van vrugbaarheid by vroulike diere:
- Vroulikheid en hoë vrugbaarheid gaan gepaard met ’n wigvormige liggaamsbou met die diepste punt deur die liggaam, die buik, net voor die uier en met ’n wigvormige vernouing na voor na die eerste rib.
- Oorvet beeste is minder vrugbaar en onvrugbare beeste raak vet.
- Die minder vrugbare vers is gewoonlik groot, swaar en vet en vertoon manlik.
- Vrugbare koeie is nie groot en vleisagtig in bouvorm nie.
Hiermee ’n paar visueel waarneembare eienskappe in bulle vir goeie vrugbaarheid:
- Spierdefinisie en goed in balans.
- Goed ontwikkelde swaar en bespierde skof.
- Manlike gedrag, die optrek en laat sak van die teelballe.
- Goeie haargehalte.
Hou hierdie eienskappe van die vroulike en manlike diere in gedagte om aankoopseleksie te vergemaklik en die voordele van die Simmentaler in jou kruisteling op te merk.
Maandeliks word ’n nuusbrief, Simmentaler Pulse, uitgereik wat beesliefhebber nie moet misloop nie. Almal is welkom om in te teken. Jy kan dit doen deur www.simmentaler.org te besoek, kies MEDIA, SIMMENTALER PULSE en voeg jou e-posadres in die blokkie en kies “subscribe”.