
Dié omgewing is mielie-, soja- en sonneblomwêreld en die boeregemeenskap is so gasvry as wat kom. Van 13 tot 16 Februarie gaan die feesterrein vermaak vir jonk en oud verskaf om te wys hoe Vrystaters kan kuier.
Die Bieliemieliefees is die Vrystaat se vierde grootste fees en lok jaarliks sowat 15 000 mense.
By die 40ste fees kan besoekers verwag om uitstallings van die nuutste landbouwerktuie, die mooiste skape op die SA Vleismerino-skou, boere se heel beste vee in die kuddekompetisie, ramveiling en beesuitstalling te sien, en ook sommer toekyk hoe bedrewe skaapskeerders teen mekaar meeding in die spoedskeerkompetisie voordat die sterk manne kyk wie die swaarste vrag wol kan dra.
Daar is ook verskeie ander kompetisies op die feesprogram. Kom raai of skat ’n bul se gewig of bring jou mooiste haan en swaarste hen om pryse te wen! Dan kan jy ook ’n appeltjie skil met jou mededingers om te sien wie dié taak die vinnigste kan voltooi, of aan die skilder- of breikompetisie deelneem, terwyl kokke kan bewys dat hulle die lekkerste potjiekos kan voorsit.
Streepsakke, eiers, bokmis, mieliepitte, trekkerbande en wie weet wat nog alles sal beskikbaar wees vir diegene wat aan die boeresport-item saam met sepsiesterre van Binnelanders en Getroud met Rugby wil deelneem.
Jonger besoekers word in die kinderspeelterrein besig gehou en kan vir Buster en Bella ontmoet.
Sportgeesdriftiges kan op 15 Februarie in die Bieliemielie-marathon kwalifiseer vir die Comrades- én die Twee Oseane-ultramarathon. Atlete wat voorheen aan hierdie wedloop deelgeneem het, weet dit maak nie saak of jy aan die 5 km- of 10 km-pretdraf, die halfmarathon of die marathon deelneem nie: Jy hardloop op ’n lieflike roete.
Dan is daar ook ’n krieketwedstryd, gholf- en visvang-kompetisie waar groot pryse gewen kan word. Die Bulletjie-rugby- en mini-netbal-wedstryde lok elke jaar groot belangstelling.
Saans sorg gewilde sangers soos Appel, Adam Tas, Elandré, Demi Lee Moore, Sunset Sweatshop, Spoegwolf en ander vir vermaak en Sondag word die fees afgesluit met ’n lofprysing saam met Jo Niemand en VirAnder.
Soos hulle sê, die helfte is jou nog nie vertel nie. Besoek die webwerf http://www.bieliemielie.co.za/ en die Facebook-blad by https://www.facebook.com/bieliemielie/ vir die volledige program en kry jou planne agtermekaar vir ’n onvergeetlike naweek.