
SA Stamboek se rol in die volhoubare winsgewendheid van veeboere in Suid-Afrika is onmisbaar. Dié organisasie bestaan reeds vanaf 1905 en is steeds die voorloper vir aantekening- en registrasiedienste; tegniese advies, asook navorsing en ontwikkeling in die teling van plaas- en ander diere.
Hierdie Vereniging bied ook datadienste, wetenskaplike advies en bystand aan telersgenootskappe. Daar is selfs administratiewe en sekretariële dienste deur Stemma Animalia, Stamboek se maatskappy.
Die afgelope jaar het Stamboek sy rol verstewig met die uitbreiding van sy dienste. Hy het sy beskikbare digitale verslae vir vleisbeeste, melkbeeste en kleinvee uitgebrei om bestuursinligting vir boere só aan te bied dat hulle dit maklik kan aanwend om die regte bestuursbesluite te neem en uit te voer om volhoubare winsgewendheid in hul kuddes te behaal.
Stamboek is steeds die enigste diensverskaffer in Afrika wat genomiese dienste lewer vir vleis- en melkbeeste, asook vir skape. In 2022 het nog drie vleisrasse (Hugenoot, Hereford en Charolais) ook begin om genomiese teelwaardes maandeliks te ontvang.
Verdere vooruitgang wat Stamboek die afgelope jaar gemaak het, was om die eerste gesamentlike teelwaarde-evaluasie vir die Suider-Afrikaanse Tuli-ras te doen as deel van ’n inisiatief van die Afrika-unie waarby al die Suider-Afrikaanse lande betrek is.
Daar vir die telers
Hoewel Stamboek, as registrerende owerheid, se bestaansreg gesetel is in die vereistes van die Wet op Diereverbetering (Wet 62 van 1998), sê dr. Japie van der Westhuizen, hoofbestuurder, dat SA Stamboek aan die bedryf behoort.
“Ons lede is die telersgenootskappe wat direkte inspraak het op ons koers. Stamboek is ook die enigste liggaam wat ’n volledige diens aan elkeen lewer – van ’n relatiewe klein kudde tot die grootste telersgenootskappe in die veebedryf.”
SA Stamboek het tans 65 genootskappe as lede, met die Santa Gertrudis, Droughtmasters en Afrikaners as die nuutste toevoegings. Sy lede sluit ook telersgenootskappe in die buiteland in soos die Namibiese Bonsmara-telersgenootskap, Boerbok Indië, Boerbok Alliance in Amerika en die Dorper-telersgenootskap van Namibië. Daar is ook etlike buitelandse telers uit onder meer Botswana, Zimbabwe, Zambië, Brasilië, Argentinië en Amerika wat direk by Stamboek aanteken en sy dienste gebruik.
Selfs sonder die toevoeging van die nuwe rasse wat aangesluit het, het die aantal diere wat by Stamboek aangeteken is, die afgelope jaar met 5% gestyg.
“Die goeie reënjare en pryse vir stoetdiere, asook lewendige belangstelling in die aankoop van teelmateriaal waarop vertrou kan word, het dié groei tot gevolg gehad.”
Op die wenpad
Al dié vooruitgang is deel van Stamboek se visie vir die toekoms.
“Stamboek se uitvoerende komitee en bestuurspan het ver gevorder om die organisasie strategies op ’n nuwe pad te plaas. Die afgelope paar jaar se gebeure ten opsigte van die hofstryd met die Landbounavorsingsraad (LNR) en die vernuwing van rekenaar- en inligtingstelsels lê nou agter ons. Die klem gaan nou veral gelê word op vernuwing in doeltreffende dienslewering. Die volhoubare winsgewendheid van veeboere in Suid-Afrika is die oorkoepelende doel,” sê Van der Westhuizen.
Om veeboere by te staan in hul volhoubare winsgewendheid dra Stamboek die boodskap van die suksesvolle aanwending van diere-aantekening uit.
“Dit raak al hoe belangriker om betroubare data, as onderliggende bron, te gebruik sodat die regte bestuursbesluite geneem en stappe gedoen word vir volhoubare vordering en winsgewendheid in boerdery-ondernemings.”
Die regte dinge moet gemeet en aangeteken word, verwerkings van die data moet korrek wees om dit te omskep in inligting, en die resultate van die stappe moet voorspelbaar akkuraat wees. Die boer vind dus baat omdat sy risiko verminder, deur byvoorbeeld die regte bul, ram of hings te kies as teeldier om vervangingsdiere te teel. Die kans is dan goed dat dié diere aangepas is by die omgewing en produksiepraktyke, gesog is by die kopers, of produkte soos vleis, melk of wol lewer wat die mark vereis.
Stamboek bied gemoedsrus aan sy lede omdat hy in al die belangrike afdelings van ICAR (International Committee for Animal Recording) se internasionale riglyne voldoen. Die data en inligting wat voortvloei uit Stamboek se dienste, is dus betroubaar.