
Die wegvoer van organiese afval vanaf stortingsterreine is een van die regering se omgewingsdoelwitte, aangesien dit sal help om die uitwerking van klimaatsverandering te versag.
EnviroServ-afvalbestuur help boere landwyd om toegang tot veevoer te verkry wat uit verskillende vorms van nywerheidsvoedselafval gemaak word, insluitend bakkerye en brouerye.
Voedselafval is ’n wêreldwye probleem en vir die voedselbedryf kan deegafval die verskil tussen wins en verlies beteken. Die verwydering en wegdoening van afval bring dikwels vir bakkerye, veral die kleineres, buitensporige kostes mee.
EnviroServ se oplossing is om landwyd deegafval by nywerheidsbakkerye in te samel en te behandel deur dit met ander organiese afval te kombineer. Dit word dan as veevoer by boere afgelewer.
Vir byna twee dekades al help EnviroServ ’n brouery in Gqeberha om nat gebruikte graan, brouersgis en moutstof na plaaslike boere te herlei wat op hierdie hoëproteïenbronne staatmaak vir dierevoer.
“Die mengsel van graan en gis balanseer die dier se grasrantsoene sodat boere kan aanvul sonder om melkproduksie in te boet en dit help om hul marge per hektaar te verhoog,” sê EnviroServ se streekbestuurder in die Oos-Kaap, me. Andrene Uithaler.
Brouersgraan het dieselfde proteïeninhoud as lusern en volgens een Addo-melkboer vind beeste dit baie smaaklik. Die mengsel van graan en gis wat by die voer gevoeg word, verhoog melkproduksie tot 15% per koei per dag. Aangesien konsekwentheid belangrik is, maak die boere staat op EnviroServ om af te lewer. Tenks op die brouery se terrein word dus daagliks met gebruikte gis gevul.
“Aangesien elke boer verskillende volumes benodig, word dit op elke plaas in JoJo-tenks oorgepomp,” sê Uithaler. Die grootste volume wat by een boer afgelewer word, wissel van 120 ton tot 150 ton graan per week.
“Dit is uiters belangrik om hierdie produkte so gou moontlik te verwyder – dit moet binne 24 uur weggeneem word omdat ruimte en die lewensduur van die produkte ’n probleem is.”
Die melkboere voer ’n gemengde rantsoen wat ’n kombinasie van die brouersgraan, -gis, lusern, mieliekuilvoer, hawerkuilvoer en soja-oliekoek inkorporeer. Volgens dié metode kry koeie ’n voermengsel wat geformuleer is vir ’n spesifieke voedingswaarde-inhoud. Hierdie gemengde rantsoen word twee maal per dag vir melkkoeie gevoer en word volgens die hoeveelheid beskikbare weiveld en die voedingsvereistes van die diere gebalanseer.
“Boere waardeer dit werklik om die graan te gebruik wat ons aan hulle verskaf, en ons stel ons verhouding met hulle hoog op prys omdat dit net nog ’n manier is waarop ons ons toewyding aan ons kliënte bewys deur hulle te help om deel te word van die sirkulêre ekonomie,” sê Uithaler.