
Pannar se sojaboonpakket bied ’n reeks groeiklasse vir alle behoeftes wat plantdatums, plantestand en produksiegebiede betref en verseker dus sukses vir alle plaaslike sojaboonboere. PAN 1479R is ’n nuwe glifosaat- verdraagsame, vinnige (MG 4,6) sojaboonkultivar wat PAN 1454R vervang.
PAN 1479R word vir die hoofplanttydperk in die koel produksiegebiede aanbeveel. Dit word ook aanbeveel vir die oostelike gematigde produksiegebiede, soos Mpumalanga en KwaZulu-Natal, as deel van ’n kultivarpakket of waar ’n vinnige kultivar nodig is om die strooptyd oor ’n langer tydperk uit te rek. Dit is ’n homogene kultivar.
Aanbevelings
Plantestand, plantdatum en die groeiklas of volwassenheidsgroep van die kultivar is die belangrikste faktore wat in ag geneem moet word by kultivarkeuse. Dié verbouingsaspekte lewer ’n groot bydra tot die sukses van sojaboonproduksie. Sojaboonkultivars word in 12 groeiklasse (MG – maturity group) van groeiklas 00 tot groeiklas 9 ingedeel, met 00 wat die vinnigste en 9 wat die langste of laatste groeiklas aandui.
Hierdie indeling word bepaal deur die dagliglengte wat ’n kultivar nodig het om optimaal te kan ontwikkel en ’n oes te produseer. ’n Groeiklas 9-kultivar is geskik vir aanplanting in gebiede naby die ewenaar en groeiklas 00 vir gebiede so ver noord of suid van die ewenaar af as moontlik.
In Suid-Afrika is kultivars in groeiklasse 4,5 tot 7,5 taamlik veilig en bied goeie oessekerheid. Wat plantdatum betref, moet sojabone saam met mielies geplant word of in die grond kom selfs nog voordat mielies geplant word. Namate dagliglengte met die seisoensverloop ná 22 Desember korter word, begin sojaboonplante van vegetatiewe groei na reproduktiewe ontwikkeling (blom) oorgaan.
In die praktyk, en ongeag die plantdatum van sojabone, blom verskillende aanplantings taamlik na aan mekaar. Die voordeel van sojabone wat vroeg geplant word, is groter plante danksy beter vegetatiewe groei. Die gevolg hiervan is meer plantlitte en dus oksels waar blomme vorm om peule voort te bring.
Wat plantestand betref, is dit belangrik om die saailinge te beskerm sodat ’n optimale plantestand gevestig kan word. In die tydperk tussen ontkieming en opkoms is die nek van die sojaboonsaailing gevoelig en kan dit maklik afbreek. Grondbewerkings en plantdiepte het ’n groot invloed op die oorlewing van saailinge.
Hoe dieper die saad in die grond geplant word, hoe dunner rek die nek uit om bo die grondoppervlak te kom en hoe meer geleentheid is daar vir skade. Om ’n sojaboonland tussen die plantproses en die opkoms van saailinge met ’n roleg te bewerk om enige kors op te breek, is beslis taboe.
Plantestand hang af van die grondtipe, boerderypraktyke, rywydtes en plantdatum. Met vroeë plantdatums kan ’n verminderde stand steeds doeltreffend wees, maar dit is beter om ’n hoër plantestand te vestig om steeds ’n bevredigende stand te behaal as iets verkeerd sou loop.
Keuse van kultivars
Om risiko te versprei, word ’n pakket van verskillende kultivars aanbeveel. In TABEL 1 is die gemiddelde prestasie uitgedruk as ’n persentasie van die gemiddeld in die Landbounavorsingsraad (LNR) se nasionale proewe oor vyf jaar per groeiklas vir die verskillende produksiestreke. Dit gee ’n goeie aanduiding van die geskikste groeiklas per produksiestreek.
In TABEL 2 is die kultivars in verskillende groeiklasse gerangskik. Die persentasie wat elke groeiklas van die pakket kan uitmaak, is aangedui om risiko optimaal te bestuur. In jare waar reën einde Februarie en in Maart wegbly, sal die groeiklasse 4,5 tot 5,5 baie beter presteer as die groeiklasse 5,5 tot 7,5.
Die omgekeerde is waar as die tweede helfte van die seisoen goeie reën kry. Op lang termyn is gevind dat groeiklasse 5 en 6 die stabielste opbrengs lewer. Die grootste deel van die pakket moet dus uit dié groeiklasse saamgestel word. Pannar bied ’n volledige reeks kultivars om aan byna alle kombinasies te voldoen wat plantdatum en produksiegebiede betref.
Tesame met Pannar se kundigheid van plaaslike toestande en uitsonderlike agronomiese ondersteunings- en ontwikkelingsprogramme verskaf die maatskappy ook uitstekende advies aan boere, gegrond op hul unieke behoeftes, om produksie te optimaliseer. Mnr. Nico Barnard is Pannar Saad se landboukundige op die Sentrale Hoëveld.