
Pannar se sonneblombasters bied puik opbrengspotensiaal by alle opbrengsvlakke en bied goeie stabiliteit in verskillende produksietoestande. Die pakket bied opsies vir vroeë plant- en blomdatums om die risiko van Sclerotinia-besmetting te help bekamp. Tegnologie-opsies sluit konvensionele en Pannar® se sonneblombasters met die Clearfield® Plus-eienskap in, asook ’n baster met ’n hoë-oliensuurinhoud.
PAN 7170
Dié baster is ’n nuwe konvensionele toevoeging tot Pannar se stal. PAN 7170 is agronomies soortgelyk aan PAN 7100, maar is vinniger tot blomdatum. Albei die basters is effens vinniger as PAN 7080. Die basters vul mekaar aan in ’n pakket en bestuur dus die risiko van moontlike Sclerotinia-besmetting beter.
Hoewel PAN 7170 effens vroeër blom, is dié baster se graanvullingstydperk effens langer as dié van PAN 7100. Dit is voordelig vir PAN 7170 se opbrengspotensiaal en olie-inhoud. Wanneer later in die seisoen geplant moet word, is PAN 7170 ’n goeie keuse. PAN 7170 het beter Alternaria-verdraagsaamheid as die ander konvensionele basters.
PAN 7180CLP
PAN 7180CLP is die Clearfield® Plus-weergawe van die bekende PAN 7080. Dit beskik dus oor soortgelyke genetiese eienskappe. Pannar® se sonneblombasters met die Clearfield® Plus-eienskap bied die voordeel van alternatiewe onkruidbeheer en ’n wisselboustrategie.
Die Euro-Lightning® Plus-onkruiddoder (reg.nr. L10316, Wet 36 van 1947) bied doeltreffende n.-opkomsbeheer van ’n breë spektrum gras- en breëblaar- onkruid. Onthou dat Pannar® se sonneblom met die Clearfield® Plus-eienskap slegs geregistreer is vir gebruik saam met die Euro-Lightning® Plusonkruiddoder.
PAN 7180CLP beskik oor dieselfde opbrengsprestasie as PAN 7080. PAN 7180CLP beskik egter oor ’n paar agronomiese verbeteringe wat Alternaria en Sclerotinia betref. Aansienlik minder probleme met Sclerotinia is by die ouerlyne ondervind. PAN 7180CLP vervang PAN 7156CLP. PAN 7180CLP vul die Clearfield ® Plus-basterpakket goed aan met ’n goeie opbrengspotensiaal en agronomiese eienskappe.
Saam met PAN 7102CLP en PAN 7160CLP is hierdie drie basters ’n gedugte pakket waarmee die risiko van veral potensiële Sclerotinia-besmetting beter bekamp kan word. In die Clearfield® Plus-pakket blom PAN 7102CLP eerste oor ’n kort tydperk (10 dae). PAN 7160CLP blom tweede, maar oor ’n langer tydperk (tot 18-21 dae).
PAN 7180CLP blom laaste, wat optimale bestuur van Sclerotinia bied. Die aantal dae tot fisiologiese rypheid is ook in dieselfde volgorde as by die blomdatums. Die basters se strooptyd word dus oor ’n langer tydperk versprei. Sonneblom bly soms vir ’n tyd nat en droog dan binne ’n dag of twee af tot minder as 8% vog.
Dit bemoeilik weer stroop met oormatige materiaal op die tafel. Dit veroorsaak dat die materiaal maal en dat die vloei van materiaal in die stroper belemmer word. Indien ’n pakket uit hierdie drie basters bestaan, sal dit die stroopproses vergemaklik omdat die sonneblomme oor ’n langer tydperk sal afdroog.
Beste stroopstadium
Sonneblom is fisiologies ryp wanneer die agterkant van die kop van groen na geel verkleur en die omtrekskutblare verbruin en bros begin word. Die plante kan gestroop word wanneer die koppe se agterkant nog effens klam is. Verliese tydens die oes oesproses word so baie verminder.
Die stroopproses kan begin wanneer die saad se voginhoud 12,5% is. Sonneblomsaad wat opgeberg word, moet ’n voginhoud van minder as 10% hê, of anders kan swamme daarin opbou binne 48 uur nadat dit in ’n hoop gestort is. Die risiko bestaan ook dat die saad spontaan kan ontbrand by hoër vogpersentasies.
Die optimale voginhoud vir opberging is 9,5% indien die saad vir maande in ’n silo opgeberg moet word. Dit moet ook deurlopend belug word of van silo na silo verplaas word om die opbou van swamme te voorkom. As multigewasspesialis bied Pannar ’n volledige reeks kultivars, saamgestel uit verskillende groeiklasse en eienskappe, om aan byna alle kombinasies vir plantdatums en produksiegebiede te voldoen.
Gepaardgaande met die maatskappy se kundigheid van plaaslike toestande en uitsonderlike agronomiese ondersteunings- en ontwikkelingsprogramme, bied Pannar uitstekende advies aan boere volgens hul unieke behoeftes. Mnr. Corné van der Westhuizen is Pannar Saad se landboukundige in Noordwes.