
Om inhoud gemik op pret en plesier, soos Arina du Plessis se gewilde resepte, episodes van Landbouweekliks en ander gewilde leefstylinhoud aan te vul, kan Landbou.com-intekenare nou hul slag in drie splinternuwe speletjies – ’n blokraai, sudoku en woordblom – wys.
Letterboere kan nou elke dag ’n nuwe digitale blokraai voltooi. Dié blokraai sal aanvullend tot die blokraai in die tydskrif gepubliseer word en is bedoel vir blokraaigeesdriftiges wat reikhalsend na ’n lekker landboublokraai uitsien.
Die digitale blokraai word deur Gerda Engelbrecht opgestel. Sy is ook die opsteller van die tydskrif se blokraai.
Benewens dié blokraai, sal lesers ook kan wys wie is baas op die sudoku-plaas. Jy sal egter jou storie moet ken, want sudoku sal in ’n maklike, gemiddelde en moeilike weergawe beskikbaar wees! Vir diegene wat nie sudoku ken nie, dit is ’n syferspeletjie waar die doelwit is om elke ry, kolom en raam met die syfers 1 tot 9 te vul sonder dat ’n syfer in ’n ry, kolom of raam herhaal.
Die derde speletjie is moontlik ’n nuutjie vir lesers. Dit word genoem woordblom – ’n woordspeletjie waar lesers met ’n spesifieke stel letters soveel as moontlik woorde moet gebruik. Die vangplek? Een van die letters móét in elke woord gebruik word. Hoe meer en langer woorde jy kan vorm met die letters, hoe hoër is jou telling.
Dié drie speletjies moedig ook gesonde wedywering aan, so deel gerus jou resultate op sosialemediaplatforms met jou vriende en daag hulle uit om beter as jy te vaar.
Die pret hou ook nooit op nie, want nuwe speletjies word elke dag gelaai.
Kom speel op Landbou.com se SPELETJIES! Sien jou daar.