
Raaswater Landgoed, een van die gesogste druiweplase in die Upington-omgewing, is op soek na ’n nuwe eienaar. Hierdie spogplaas is in die Noord-Kaap op die suidelike oewer van die Oranjerivier, langs die R359 op pad na Kanoneiland en gaan op tender verkoop word deur Lange Carr en Wessels (LCW) Prokureurs.
Die feit dat dié plaas teen die Oranjerivier lê, maak dit ’n aanloklike koop vir die boer wat in gunstige omstandighede en ’n gepaste klimaat met druiwe wil boer. Raaswater Landgoed bestaan uit 19 titel-eiendomme met vaste verbeterings en los goedere.
Die plaas
Die plaas is hoofsaaklik ontwikkel vir uitvoerdruiwe, wat tafel- en rosyndruiwe insluit. ’n Groot gedeelte van die tafeldruiwe is met haelnet bedek. Die grond is uiters geskik vir wisselbou. Boere in die omgewing boer hoofsaaklik met wingerd en pas wisselbou toe met lusern en pekanneute. Waterregte op 425,9 hektaar word saam met Raaswater Landgoed verkoop, waarvan 257,9 hektaar onbenut is en beskikbaar vir uitbreiding. Daar word tans 168 hektaar se waterregte aangewend om die bestaande wingerde te besproei.
Die plaas beskik ook oor ’n wildkamp (met wild) van ongeveer 800 hektaar wat in twee kampe gedeel is en baie netjies omhein is. Die wild sluit onder meer sebras, gemsbokke en springbokke in.
Die wonings
Op die plaas is ook ’n paar woonhuise wat goed onderhou is. Die hoofhuis is ’n moderne vyfslaapkamerwoning met vier badkamers. Al die vertrekke het ingeboude kaste. Die ruim sit- en eetkamer, asook die moderne kombuis het gelamineerde houtvloere. Dié huis het ’n groot waskamer met ingeboude kaste, drie motorhuise en ’n netjiese kantoor. Die buite-area sluit in ’n groot swembad, pragtige, gevestigde tuin en netjiese buitebraai.
Daar is ’n plaasbestuurderswoning wat bestaan uit ’n vierslaapkamerhuis met drie badkamers. Al die kamers het ingeboude kaste. Dit het ’n ruim oopplan-eet-en-sitkamer, met ’n televisiekamer en kroeg. Die moderne kombuis het ook ’n opwasarea. Hierdie huis het ’n dubbelmotorhuis, ’n groot swembad, ’n tuin wat goed gevestig is, en ’n buitebraai.
Die tweede plaasbestuurderswoning het drie slaapkamers en een badkamer. Dit het ook ’n kombuis, ’n televisie/sitkamer, ’n enkelmotorhuis, ’n buitebraai en ’n gevestigde tuin.
Raaswater Landgoed het werkershuise en ander strukture op die plaas. Dit sluit in buitegeboue, ’n pakskuur, onderdakstrukture van staal met sementvloere wat hoofsaaklik vir stoorplek gebruik word, opgaardamme, rypwaaiers, pomphuise en chemiese pakhuise. Dan is daar ook ’n kerk, ’n kleuterskool en ander geriewe.
Ander bates
Benewens die plaastoerusting wat saam met die landgoed verkoop word, word heelwat ander bates ook aangebied, soos sewe spuitpompe, tien druiwewaentjies, motorfietse, plaasbakkies, kamerastelsels in die pakskuur, asook kantoortoerusting soos agt rekenaars en vyf drukkers, en vele meer.
Die tenderdokument kan op LCW Prokureurs se webblad www.lcw.co.za besigtig word of klik HIER. Dit moet ingevul en onderteken word. Die dokument moet daarna self of deur ’n voornemende koper se prokureur na LCW gestuur word, verkieslik per koerier. Van die voorwaardes wat geld, is ’n terugbetaalbare registrasietarief van R50 000. Die hoogste tenderaanbod sal nie noodwendig aanvaar word nie. Volledige besonderhede en tendervoorwaardes is ook beskikbaar op LCW Prokureurs se webblad.