
Die Sussex kom oorspronklik uit die suide van Engeland, waar die beeste al eeue lank geteel word. Daar word algemeen aanvaar dat die Sussex die oudste Britse beesras is. Die diere word geteel vir hul gehardheid om te vergoed vir die swak grond en weidingsgehalte in die gebied waar hulle voorkom.
Die Sussex-ras het ook ’n lang en ryk geskiedenis in Suid-Afrika wat oor ’n eeu heen terugstrek. Hoewel die Sussex-beestelersgenootskap eers in 1920 in die land gestig is, is dié beeste al in die tyd van die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 uit Engeland ingevoer.
Suid-Afrika moes sy ekonomie weer op die been bring ná die Anglo- Boereoorlog. Daar is sterk op die landbou, veral veeboerdery, gesteun. Weens groot troppe beeste wat in die oorlog geslag of gesteel is, was daar min diere oor wat as basiskuddes kon dien. Dit het ’n uitstekende geleentheid geskep vir Britse beesrasse om hul merk te maak.
Teen 1920 was daar reeds 18 Sussex-telers in Suider-Afrika wat die destydse Suidwes-Afrika (nou Namibië) en Rhodesië (nou Zimbabwe) ingesluit het.
Groei en ontwikkeling
Vandat daar met die teel van die Sussex in Suid-Afrika begin is, was die doelwit altyd om sekere aspekte van die inheemse beesrasse te bevorder deur van Sussex-bulle gebruik te maak. Só kon ’n boer byvoorbeeld ’n klein kudde rasegte Sussex-diere aanhou en dan sy eie Sussex-bulle vir sy kommersiële kudde teel.
Dit het finansieel sin gemaak, en namate hierdie praktyk uitgebrei het, is die ekstra bulle aan ander boere verkoop. Dit is hoe die Sussex- ras kon groei en ontwikkel. Mettertyd het boere al hoe meer hul eie produksieveilings begin hou waar die bulle dan verkoop is.
Voortreflikheid
Wat nog altyd een van die sleutelaspekte vir die Sussex se sukses en volhoubaarheid in die bedryf was, is die “standaarde van voortreflikheid”. Die ras het hierdie standaarde oorspronklik uit die Engelse stelsel oorgeneem, maar dit het gou duidelik geword dat die toestande in Suider-Afrika eiesoortig is en dat op sekere eiesoortige eienskappe klem gelê moet word.
Mettertyd is die kollig geplaas op die verbetering van die ras in Suid-Afrika. Daar is gekonsentreer op die lende, bene en stapvermoë, en, wat uiters belangrik was, ’n gladder haarkleed. Een van die belangrikste besluite wat geneem is, was onthoorning en die inbring van poenskop-teelmateriaal wat ongeveer 20 jaar gelede toegelaat is.
Dit het nie net gehelp dat die Sussex tersaaklik bly nie, maar het die ras ook in staat gestel om uit te brei en in die Suider-Afrikaanse kommersiële beesbedryf te floreer. Wanneer na die teelmateriaal van die huidige Sussex-beeste in Suid-Afrika gekyk word, is dit belangrik om die genetiese diversiteit van die ras in gedagte te hou.
’n Verlies aan genetiese diversiteit in ’n spesifieke ras beïnvloed aanpasbaarheid nadelig. In hierdie opsig is die rekordhouding in die kuddeboek en datastelsels noukeurig bygewerk. Dit weerspieël ’n ras met ’n groot genoeg genepoel en voldoende genetiese variasie om die gevaar van inteling te beperk.
Dit is ook duidelik dat Sussex-telers mettertyd geselekteer het vir beter speengewig en melkproduksie, terwyl die geboortegewig steeds laag gebly het. Daarom die huidige bemarkingslagspreuk: “Rooi, swaar, vrugbaar – eienskappe wat tel.” Die Sussex-handelsmerk is net so belangrik soos die Sussex-ras self.
Die handelsmerk sluit die hele gemeenskap in – van stoeten kommersiële telers tot die belanghebbendes wat ’n rol by die ras speel. Die Sussex-beestelersgenootskap bestaan vandag uit net meer as 50 lede, van wie die meeste geregistreerde telers is wat in klubverband reg oor Suid-Afrika funksioneer.
Die Sussex-beestelersgenootskap meen dié ras voeg waarde toe tot onder meer die kommersiële beesvleisondernemings in die land deur die passie en betrokkenheid van die huidige en toekomstige lede. Dit sal die Sussex-beesras se sukses vir die volgende 100 jaar verseker.
Gedenkboek
Die Sussex-beestelersgenootskap het verlede jaar sy 100ste bestaansjaar herdenk. Met die covid-19-pandemie wat egter die meeste van die feesvieringe in die wiele gery het, is daar gekonsentreer op die skryf van ’n gedenkboek. Onder leiding van mnre. Enrico Cronjé en James Stephen, saam met Landbouweekblad se spesialeprojekte-span, het dit ’n werklikheid geword.
Die geskiedenis van Sussex- beeste in Suider-Afrika is in Afrikaans en Engels beskikbaar teen R720 vir die standaardomslag en R1 200 vir die deluxe-omslag. Bestel per e-pos by sussex@studbook.co.za.