
Danksy VKB se twee onlangse gholfdae kon dié landboumaatskappy sowat R700 000 insamel. Die gholfdae is onderskeidelik op 20 April by die Clarens Golf & Leisure Estate in die Oos-Vrystaat en 11 Mei by die Koro Creek Golf Estate in Limpopo gehou. Altesaam 144 spelers het aan elke gholfdag deelgeneem.
Die geld wat ingesamel is, sal op die diskresie van VKB se direksie aan verskeie boereverenigings en -instellings in die twee bedieningsgebiede van VKB toegeken word. Vanjaar sal die geld vir beveiligingsaksies op plase aangewend word.
Total en VKB was vanjaar die hoofborge van die gholfdae, terwyl talle ander verskaffers van VKB ook ruim bygedra het om van die inisiatief ’n sukses te maak.
Volgens Jan van der Walt, besturende direkteur van verkryging en voedselketting by VKB, bly dié landboumaatskappy verbind tot hulp aan en ondersteuning van die boerderygemeenskap.
“Hierdie uitreiking na die gemeenskappe in twee van VKB se bedieningsgebiede is in pas met ons waardes, naamlik om doelwitgedrewe en nederig te wees en op mense te konsentreer,” sê Jan.
“Ons landbougemeenskap is onontbeerlik in voedselverskaffing, want hulle is die mense wat voedselsekerheid in ons land waarborg. Daarom stel VKB ’n baie hoë premie op die veiligheid van ons boere, wat uiteraard ook ons klante is. Dit bly dus vir ons baie belangrik om, benewens ons rol as verskaffer van alles wat boere nodig het vir hul werksaamhede, alles in ons vermoë te doen om hulle te help veilig hou.”
Jan het sy opregte dank uitgespreek teenoor al die borge en deelnemers wat hierdie gholfdae weer eens ’n groot sukses gemaak het. “Dit is wonderlik dat ons weet ons kan met hierdie mense hande vat sodat ons op ons beurt ’n helpende hand kan uitreik na die landbougemeenskap,” sê hy.
VKB en sy verskaffers het in 2016 met die gholfdae begin. Danksy hierdie samewerking kon ’n totale bedrag van R3 miljoen al tot die Plaasveiligheidsfonds bygedra word.