
Voldoende raaigrasproduksie bly maar ’n kwessie in die koue wintermaande, asook die warm en meestal droë somermaande.
Hoe word hierdie probleme aangepak? Die boer moet sorg vir ’n voerbank met voldoende kuilvoer van gehalte, of ingeligter besluite neem rakende kultivarkeuse vir intensiewe weidings.
TabuPlus is ’n Italiaanse raaigras uit Barenbrug Nieu-Seeland se raaigrasteelprogram. Dit het veral opslae gemaak in die Nieu-Seelandse Forage Value-indeks as die enigste raaigras wat vyf sterre kry vir besondere produksie in die koue maande. Dié prestasie het nie net te doen met die besondere produksievermoë gedurende koue maande nie, maar beklemtoon ook die winsgewendheid van TabuPlus teenoor ander kommersiële kultivars.
Hoewel TabuPlus geklassifiseer word as ’n eenjarige Italiaanse raaigras, het die Outeniqua- proewe getoon dat dit volhoubaar geproduseer word tot diep in die somer, met ’n verhoogde opbrengs van 16% bo die 2021-’22-somergemiddelde van alle Italiaanse kultivars.
Hierdie volhoubaarheid oor die warmer maande, ’n vinnige vestigingsvermoë in die herfs en die besondere produksie vroeg in die koue maande is juis die kerneienskappe wat TabuPlus uniek maak. Met die voortdurende wisselvalligheid van Suid-Afrika se klimaatstoestande gaan TabuPlus beslis ’n stabiele produksievoordeel in die boer se weiding verseker.
Barenbrug ervaar ook dat TabuPlus se eienskappe dit aanpasbaarder maak vir lamtye, asook die afronding van lammers.
TabuPlus sal gemaklik inskakel by die meeste weidingstelsels. Danksy die regop groeiwyse is dit uiters geskik vir mengsels en as graskuilvoer. Rooi- en witklawer, eenjarige klawer, basterraaigras, kruie en hawer is van die gewasse wat uitstekend met TabuPlus kombineer.
Hierdie gras het ook die vermoë om in ’n relatief kort tydperk ’n groot volume wortels te produseer. Dit dra nie net by tot die suksesvolle somerproduksiepotensiaal nie, maar verseker die maksimum grondprofielbenutting van voedingstowwe en vog.
Barenbrug weet ook dat ’n groter wortelbioom vele voordele inhou vir voordelige grondmikrobes wat gesonder plante en diere tot gevolg het.
“Ons probeer altyd om te verbeter op ons beste kultivars, maar soos dit met plantteling gaan, is dit nie so eenvoudig nie,” sê mnr. Courtney Inch, raaigrasteler van Barenbrug Nieu-Seeland.
“TabuPlus het Tabu vervang en dit was nie maklik nie. Tabu was reeds gekenmerk deur ’n hoë produksiepotensiaal, digte diploïede groeiwyse en volhoubare produksie. ’n Opvolger moes dus besondere eienskappe hê.
“TabuPlus se vestigingspoed, saam met al die ander voordele, was die deurbraak waarna ons gesoek het. Vandag kan ons ’n baie besondere raaigras aan ons klante bied.”
Die maatskappy streef daarna om diereproduksie natuurlik te verhoog en lewer sodoende sy bydrae tot ’n groener en gesonder omgewing. TabuPlus is weereens ’n bewys dat dit vir Barenbrug belangrik is om die behoeftes van boere in ag te neem en die nodige oplossings te vind sodat winsgewender geboer kan word.