
Soos vir die meeste handelsektore sal internasionale handel ook vir die landboubedryf in die toekoms moeiliker wees. Dr. Marlene Louw, senior ekonoom by Absa, sê weens Rusland se inval van Oekraïne is daar groot logistieke ontwrigting. Lande kyk dus meer na binne hul grense en volg beleide om hul plaaslike bedrywe te beskerm. Dit kan toegang tot markte bemoeilik.
Sy het tydens Absa se webinaar oor die impak van die Russiese konflik op die landboubedryf dié oorlog beskryf as die derde groot terugslag teen globalisasie die afgelope paar jaar. Die ander twee was die Trump-administrasie se handelsoorlog met China en die covid-19-pandemie.
“Die voordele wat ons in die 1990’s en vroeë 2000’s uit globalisasie gekry het, kan momentum verloor.”
Logistieke probleme en hoë kospryse
Dis vandeesweek ’n maand sedert Rusland Oekraïne binnegeval het – ’n stap wat wêreldwyd veroordeel is. Lande soos Amerika het met streng sanksies gereageer.
“Gesprekke met uitvoerders en ander belanghebbendes het aan die lig gebring dat die verskeping van goedere nou nog langer duur omdat vraghouers weens die sanksies ondersoek word. Dus is daar ’n opeenhoping by belangrike hawens soos Rotterdam, wat groot ontwrigting in die vervoerketting veroorsaak,” sê Louw.
Sy voorspel dit gaan lei tot ’n groter klem op alternatiewe, meer volhoubaar bronne wat minder deur ontwrigting geraak word. Dit sal deur groeiende nasionalisme in lande versterk word.
Benewens die impak op wêreldhandel het die konflik ook gelei tot stygende kosinflasie, wat volgens Louw deur duur olie en kunsmis aangeblaas word. Ook in Suid-Afrika gaan dit op lang termyn ’n invloed hê op produsente se insetkoste, wat na kospryse sal oorspoel.
“Daar word dikwels met reg na Oekraïne verwys as die broodmandjie van Europa. Dié land vervul ’n sleutelrol in die produksie van mielies, koring en oliesaad nie net in Europa nie, maar ook op die wêreldmark.
“Met die begin van die konflik het pryse vir dié kommoditeite gestyg, maar dit het sedertdien gestabiliseer. Hierdie prysbewegings word onderskraag deur wêreldwye voorraad wat reeds laag was, daarom was die reaksie op die konflik besonder skerp.”
Rusland is ’n belangrike uitvoerder van kunsmis. Wêreldwyd is minder kunsmis nou beskikbaar en saam met die hoë olieprys gaan dit moeiliker wees vir lande om op hoë kospryse te reageer.
Dit moet gevaarligte laat flikker vir die Suid-Afrikaanse regering, maan mnr. Roland Henwood van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van Pretoria en paneellid tydens die webinaar.
“Ons het baie arm mense wat pas uit ’n inperking van twee jaar kom waartydens hul vermoë om te oorleef beïnvloed is. Nou is daar hoë inflasie, kosinflasie en ongelooflike duur petrol. Die groter konteks hiervan in die lig van die onluste in Julie 2021 is gevaartekens. Hierdie kwessies kan die lont wees, veral in samehang met ’n onbestendige politieke situasie. Die regering moet wawyd wakker wees en besluite neem in die konteks van hierdie werklikheid.”
Vooruitsig vir landbou
Louw sê boere se siening is tans nog positief. Die somergraanoeste verloop goed en is geplant lank voor die Russiese konflik. Pryse lyk ook goed.
“Vir die wintergraanseisoen sal die optimisme voortgaan omdat die meeste boere hul insette voor die konflik aangeskaf het. Ons kommer is meer oor die 2022-’23-seisoen waar voerkettingkwessies en die beskikbaarheid van kunsmis ontwrigtings kan veroorsaak.”
Sy doen egter ’n beroep om mense om nie mismoedig te raak nie. “Dis definitief onsekere tye, maar om dit te trotseer, is dit belangrik om met die mense in jou bedryf te gesels en op hoogte te bly van verwikkelinge en die implikasies daarvan. Praat met jou verskaffers en kliënte en maak seker jy is so voorbereid as wat jy kan wees.”