
*Die masjienerie is nie tans in Suid-Afrika beskikbaar nie.
Successful Farming berig dat die Case IH Trident 5550-kunsmisstrooier met Raven Autonomy se tegnologie toegerus is, wat beteken dat funksies soos geleiding, bestuur, roetebeplanning en spoed alles outomaties deur sagteware binne die strooier beheer word. Boere sal dus ’n hele toedieningsplan van ’n selfoon af kan uitwerk en, gegrond op vooraf bepaalde grense, ’n land so kan bemes.
Die tegnologie is nog in ’n vroeë ontwikkelingsfase. Case IH sit sy navorsing saam met boere en handelaars voort om die beste maniere te vind om die tegnologie na die mark te bring.
Die Raven Autonomy-stelsel gebruik ’n reeks gevorderde kameras en radar om enige voorwerpe in ’n 360-grade radius rondom die strooier te identifiseer. Deur gebruik te maak van kunsmatige intelligensie (AI) word die deurlopende stroom van beelde geïnterpreteer en voorwerpe in die strooier se pad uitgewys. ’n Operateur kan ook die kamerabeelde op sy selfoon volg. Indien daar ‘n voorwerp in die masjien se pad is, hou hy stil en ’n boodskap word na die operateur se selfoon gestuur. Die operateur kan dan besluit wat volgende moet gebeur.
Brandstofvlakke, spoed, enjin-revolusies, tenkvlakke, diagnostiese kodes en inligting vanaf die konsole kan ook alles per selfoon waargeneem word. Die outonome tegnologie laat dan meer as een bestuurderlose masjien op die land toe, maar indien ’n boer die beheer van die masjien wil oorneem, is die Trident 5550 toegerus met ’n kajuit vir ’n bestuurder.
Die Trident 5550 se ontwikkeling spruit uit Case IH se ontwikkeling van outonome voertuie sedert 2016. Mnr. Monte Weller, senior direkteur vir gewasproduksie, hooi en voerprodukbestuur by Case IH, sê gegrond op hierdie navorsing was kunsmistoediening een van die produklyne wat die meeste sin vir outonome masjinerie gemaak het.
“Met Raven se agtergrond en Case IH se kennis in die kunsmistoedieningsbedryf het ons dit goedgedink om ’n kunsmistoediener te ontwikkel ten einde die leerkurwe beter te verstaan, aangesien dit ’n platform is waarop ons wil voortbou,” het Weller gesê.