
Terwyl die Suid-Afrikaanse weerdiens waarsku oor uiters warm toestande aan die Weskus van die Wes- en Noord-Kaap, het die donderstorms wat eers teen vanmiddag naby Pofadder verwag is, reeds hul opwagting gemaak.
Volgens die weerdiens word uiters warm toestande van 40 °C en meer vandag oor die Weskus, die Drakenstein-munisipaliteit, Stellenbosch en die heel westelike gedeeltes van die Wes-Kaap verwag.
Die weerdiens waarsku dat veldbrande weens die warm toestande kan voorkom.
Erge donderstorms met vinnige, swaar neerslae van 20 mm tot 30 mm per uur word vanmiddag naby Pofadder voorspel. Dit kan tot oorstromings en gevolglik skade aan paaie, veral grondpaaie, lei. Volgens die weerdiens kan aanhoudende opvolgreën verwag word.
Me. Janine Byleveld, bedryfsamptenaar by Agri Noord-Kaap, sê dit reën tans lekker in Kimberley en dat Vaalharts reeds 36 mm tot 65 mm reën gehad het. Sy vertel mooi wolke hang ook tans oor Williston.