
Die La Niña-verskynsel kan in die komende weke baie stormagtige weerstoestande veroorsaak. Swaar reën wat vloede kan veroorsaak, word tot die einde van die maand langs die kusgebiede van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap verwag.
“Redelike swaar neerslae is moontlik oor die Oos-Kaapse kusgebiede. Gqeberha kan tot 50 mm verwag tot einde September en Port Edward aan die KwaZulu-Natalse Suidkus tot 100 mm,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Hierdie reën kan gepaard gaan met baie stormagtige toestande en veral baie sterk wind. Die moontlikheid van vloede is groot as gevolg van die reën wat tot môre (Woensdag 21 September) en in die laaste week van September kan val.”
Die onderliggende La Niña-verskynsel wat weerpatrone beïnvloed, kan baie ontstabiele toestande en baie vinnige veranderings in weerstoestande veroorsaak.
Van den Berg sê verdere sneeu en baie koue toestande oor veral die noordelike binneland van die Oos-Kaap, die aangrensende dele van KwaZulu-Natal en die Drakensberge is nie uitgesluit vir veral volgende Maandag en Dinsdag (26 en 27 September) nie.
Winterreënval
Reënvalpatrone is besig om meer oos- en noordooswaarts langs die Suid-, Oos- en Noordkus uit te brei met gevolglik minder reën oor veral die suidwestelike dele van die Wes-Kaap, wat die Weskus, Swartland en westelike dele van die Wynland-distrik insluit.
Hoewel koue fronte steeds aktief is, kom baie min reën nou voor. Van den Berg sê frontale stelsels word teen 22 September, 25 tot 27 September, 30 September en in die eerste deel van Oktober verwag, maar voorspellings dui tans aan dat daar in totaal nie meer as 15 mm op ’n plek soos Malmesbury in die Swartland in die volgende drie tot vier weke gaan val nie.
“Meer reën, van rondom 20 mm of bietjie meer, is moontlik oor die Rûens, by onder meer Bredasdorp, asook verder langs die Suidkus tot by Mosselbaai in die volgende weke,” aldus Van den Berg.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.