
Die kraaie in die Kaap het die naweek behoorlik gegaap weens die hittegolf, en hulle moet in die komende naweek regmaak vir nog ’n gegaap.
Nadat temperature van tot 45 °C oor dele van die Wes- en Noord-Kaap oor die naweek op sosiale media aangemeld is, moet dele van die twee provinsies hulle die komende naweek weer vir uitermatig hoë temperature staal.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê hoewel ’n effense afkoeling die week weens suidelike en suidoostelike winde veroorsaak word, gaan die kwik teen die naweek weer begin styg.
Hy sê hoewel Januarie en Februarie tradisioneel die warmste maande in die Wes-Kaap is met temperature wat dikwels tot 40 °C of hoër styg, kom dit voor asof die afgelope paar weke se hitte meer uitermatig was as gewoonlik en ook langer aanhou. “Met die hoogdrukstelsel wat die weerstelsel oorheers en dalende lug en hoofsaaklik oostewinde veroorsaak, verwarm die lug namate dit oor die binneland inbeweeg. Dit is waarom die die Kaapse Wynland en die Weskus die warmste toestande ervaar.”
Voorspellings dui aan dat temperature van bo 40 °C die naweek oor die sentrale tot westelike dele van die Wes-Kaap by Vredendal, Worcester en die Paarl, asook oor groot dele van die Noord-Kaap kan voorkom. “Die warm toestande sal tot in volgende week voortduur,” aldus Van den Berg.
Tropiese storm Ana
Intussen gaan die tropiese storm Ana teen Woensdag die noordelike en sentrale dele van Mosambiek tref. ’n Tropiese laagdrukstelsel het verlede week tussen Mosambiek en Madagaskar ontwikkel en dié stelsel het sedert Sondagaand dermate versterk dat dit Maandag as ’n tropiese storm geklassifiseer is. Die storm kan volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens windsnelhede van tot 85 km/h bereik.
“Omdat die naam van die storm met die eerste letter van die alfabet begin, dui dit aan dat dit die eerste sterk tropiese storm van die seisoen is. Die tropiese stormseisoen is abnormaal laat.”
Van den Berg sê tropiese storms tref Suider-Afrika verder noord teen die kusgebiede en dit is by uitsondering dat dit Suid-Afrika beïnvloed. “Die sikloon Domoina was ’n uitsondering wat groot skade oor die noordoostelike dele van Suid-Afrika veroorsaak het.”
Volgens voorspellings gaan Ana die sentrale tot noordelike dele van Mosambiek Woensdag (26 Januarie) tref en dan verder weswaarts beweeg om teen Donderdag (27 Januarie) oor die noordelike dele van Zimbabwe te wees. Namate die storm verder weswaarts beweeg, gaan dit verder verswak. Teen Saterdag (29 Januarie) sal dit oor die noordelike dele van Botswana en noordoostelike dele van Namibië wees voordat dit heeltemal disintegreer. Die stelsel behoort teen dan so swak te wees dat dit nie swaar reën oor die noorde van Botswana en Namibië gaan veroorsaak nie.
“Ana behoort baie min of geen effek op oormaat reën in Suid-Afrika te hê nie, behalwe vir ’n skraal kans vir swaar reën oor die verre noordoostelike dele van Limpopo op die grens van Mosambiek rondom Woensdag (28 Januarie),” verduidelik Van den Berg.
* Intussen het die weerdiens vandag (25 Januarie) ’n verklaring uitgereik om aan te dui dat die maksimum temperature wat die afgelope Saterdag en Sondag gemeet is, nie as nuwe rekordtemperature aangeteken gaan word nie. Die weerdiens sê hulle het temperature van 42,5°C en 45,9°C onderskeidelik in Kaapstad en Robertson gemeet, maar dat ander faktore die metings by beide die stasies beïnvloed het en dit derhalwe nie as nuwe rekords aangeteken kan word nie. ’n Nuwe rekord is wel aangeteken in terme van ’n minimum temperatuur. Alexanderbaai het Sondag ’n nuwe rekord-hoë minimum temperatuur van 22,8°C aangeteken. Die vorige rekord by Alexanderbaai is op 16 Januarie 1963 aangeteken toe die kwik 22,5°C bereik het.