
Die fase tussen die winter en somer is bekend om wisselende weerstoestande. Só byvoorbeeld het ligte reën die nag van 25 September oor onder meer Kaapstad uitgesak in die winterreënstreek, terwyl ligte reën en donderweer ook dié nag oor dele van die somerreënstreek voorgekom het. Tot 17 mm is by Wepener in die Vrystaat en Barkly-Oos in die Oos-Kaap gemeet.
Die volgende paar weke se weer gaan volgens mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, gekenmerk word deur baie warm toestande oor dele van die land, veral van 28 September tot 10 Oktober.
“Dit is veral oor die sentrale tot noordelike en noordwestelike dele van die land waar temperature van bokant 35 °C kan voorkom tot ongeveer middel Oktober. In die Noord-Kaap kan die kwik op plekke soos Askham, Upington en Augrabies by 40 °C gaan draai,” sê Van den Berg. Terselfdertyd word, as gevolg van bewolkte toestande en ligte reën, koeler dagtemperature rondom 20 °C oor die oostelike en noordoostelike dele van die Oos-Kaap en aangrensende dele van KwaZulu-Natal in die volgende week verwag.
Reën oor somerreënstreek
“Korttermynvoorspellings is oor die algemeen nie gunstig vir reën oor bykans die hele land nie. Die enigste gebiede waar daar ’n kans is vir noemenswaardige reën in die volgende week is langs die Suid- en Ooskus en aangrensende binneland,” aldus Van den Berg.
Voorspellings dui aan daar is ’n vooruitsig vir tropiese vog wat teen 4 Oktober tropiese vog oor Botswana en Namibië kan inbring en tot ligte reën kan lei in ’n band wat strek vanaf die noordwestelike dele van Suider-Afrika meer suidooswaarts. Gebiede waar neerslae moontlik is kan insluit die oostelike dele van die Noord-Kaap, Noordwes, Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. “Dit lyk egter na reënvaltotale van minder 10 mm met ’n waarskynlikheid van 40% tot 50%.”
Produksieverliese verwag in winterreënstreek
Grondwatertoestande oor die winterreënstreek is oor die algemeen swak, met ondergemiddelde reën wat in veral Augustus en September voorgekom het. Malmesbury se langtermyngemiddelde reën vir dié twee maande is sowat 95 mm, en tans staan die neerslae vir dié twee maande daar op ongeveer 60 mm.
Hopefield het minder as 50 mm gehad vir hierdie tydperk teenoor ’n verwagting van ongeveer 80 mm en Bredasdorp 45 mm teenoor ’n verwagte 92 mm. Van den Berg sê die groot aantal reëndae met klein hoeveelhede reën wat saam met bewolkte en koel toestande voorgekom het, het tot op hede skade aan gewasse beperk. Daar was tussen 15 en 20 dae met reën vanaf 1 Augustus. “Met die verwagte warmer dae en groter plante wat meer water gebruik, gaan die evapotranspirasie vinnig verhoog en gaan plante vinnig watertekorte begin ervaar. Daar is ook geen waterreserwes in die grond nie.
Voorspellings toon dat die kans op betekenisvolle reënval in die volgende weke baie klein is. Die eerste kans op reën in die Rûens en Suid-Kaap is van 4 tot 6 Oktober en oor die Swartland eers in die tweede week van Oktober, wanneer ligte neerslae van minder as 10 mm verwag word. Dagtemperature van 20 °C tot 25°C en selfs hoër word vir die volgende ten minste twee weke voorspel en dit kan die droogteskade op gewasse vinnig laat toeneem.
“Met die mees kritiese stadium van produksie nou teenwoordig, reënvalvooruitsigte ongunstig en warmer temperature wat gaan voorkom, gaan die produksieverliese (onder wintergewasse) baie vinnig toeneem,” sê Van den Berg.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.