Om die impak van die verwagte swaarder reën aan die begin van die somer en droogte later in die seisoen tot voordeel van die somergraanoes te gebruik gaan ’n fyn balanseertoertjie van boere verg, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Aanplantings van somergrane begin tradisioneel eers in Oktober wanneer grondvogtoestande meer gunstig word, maar ook wanneer grondtemperature hoog genoeg is om ontkieming toe te laat. Grondtemperature in die saadbedding moet ten minste 15 °C wees om goeie ontkieming en lewensvatbare plante te vestig.
Oor groot dele van die somergraanstreek is grondwatertoestande vir hierdie tyd van die jaar baie gunstig en produsente kon al redelik ver primêre bewerkings doen. In die meeste gevalle is die boonste 20 mm tot 300 mm grond egter redelik droog omdat die bogrond uitgedroog het, met die laaste reën wat in Junie voorgekom het en bewerkings en sterk wind wat heelwat vog in die boonste lae verlore laat gaan het.