
’n Boer van die distrik Edenville in die Vrystaat het sowat 300 skape verloor ná ’n frats haelstorm verwoesting gesaai het op sy plaas.
Sowat 100 mm reën en hael het binne net 15 minute op die plaas van mnr Danie Theron (snr) uitgesak.
Volgens mnr. Heyns Theron het hy en sy broer, Danie (jnr), ongeveer die helfte van hul trop Dohne-Merino-lammers verloor. Die lammers is onlangs geskeer, en moes weens die hoë volume hael verkluim het. Die diere het bo-op mekaar geklim om hitte te soek en van die diere is in die proses doodgetrap, sê Heyns.
“Ek het dit nog nooit gesien nie, en die ouer mense hier rond met wie ek praat weet ook nie van so iets nie. Dit is nie iets wat by ons gebeur nie," sê Heyns.
Volgens sy vrou, Sunita, het die weer rondom middagete begin saampak na hulle heeldag reën te wagte was.
“Ewe skielik het dit begin reën en toe is dit hael en binne 15 minute toe is dit oor en verby.”
Afgesien van die diereverlies, het die reën ook skade aan die huise veroorsaak. ’n Ou melkstal is deur die wind en reën verwoes.
“Dit voel asof daar iemand in die familie dood is. ‘n Mens bou só hard aan jou trop en dan gebeur só iets,” sê Sunita.
Volgens Heyns is daar nie baie kleinveeboere in die distrik nie, en weet hy nie van nog boere in die gebied wat nog kleinveeverliese aangeteken het nie.
“Ons het nie die hael verwag nie, net die reën, en het nie gedink die skape moet uitgehaal word nie. Die bure het 18 mm gemeet en niks hael nie,” sê Sunita.
Volgens haar was al die wol na die skeerdery verpak in bale in die skuur. Die groot hoeveelheid reën het dié skuur oorstroom en is hulle nie seker of die wol steeds bruikbaar sal wees nie.
Hulle is nou ook bekommerd dat die oorblywende lammers longontsteking kan optel en daar verdere verliese kan volg. “Ons moet nou probeer om die skape wat oor is, te probeer red en spuit en tussen die bome te hou waar hulle meer beskut is. Maar die weer is dik hier by ons en ons verwag nóg reën,” sê Heyns.
Hulle is tans besig om die veeverliese te verreken, maar Heyns skat tans sy verlies op 270 tot 300 lammers.