Van die oostelike dele van Mpumalanga het sedert begin Oktober reeds soveel reën ontvang dat landerye plek-plek te nat is om te plant. Die ideale planttyd in die oostelike dele van die somergraanstreek is van middel Oktober tot einde November.
“Die grootste deel van die sentrale tot oostelike binneland en aangrensende kusgebiede kan meer as 40 mm in die eerste week tot tien dae van November kry,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. Hy sê die vooruitsigte vir reën oor groot dele van Suid-Afrika is gunstig sedert begin November.
“Voorspellings dui tans aan dat daar bykans daagliks reën kan voorkom oor Mpumalanga, Gauteng, KwaZulu-Natal, die oostelike dele van Limpopo, die oostelike dele van die Vrystaat en Noordwes, asook die noordoostelike dele van die Oos-Kaap,” sê Van den Berg. “Ligter neerslae kan weswaarts voorkom oor die Noord-Kaap, die westelike dele van die Oos-Kaap, Limpopo, die Vrystaat en Noordwes.”