
Volgens mnr. Stefan Erasmus van die Beskuitfontein-boerdery naby Middelburg het ’n kol noord van Middelburg en suid van Colesberg, wat strek tot verby Steynsburg en Venterstad, van 90 mm tot 140 mm gemeet, met groot gebiede daarom wat 30 mm tot 40 mm gemeet het.
“Baie van die water is deur Noupoort, wat effens verspoel het, en van die ander water is deur Oorlogspoort, wat vir die eerste keer in donkiejare met een reënbui sommer reguit tot in die Oranjerivier uitgeloop het.”
Verskeie boere het skade aangeteken.
“Talle damme het gebreek en landerye het verspoel, maar alles in ag genome is die voorspoed wat die reën bring, baie meer as die skade wat aangeteken is.”
Volgens me. Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, grondsake en grondhervorming, wie se man, Abraham, tussen Venterstad en Steynsburg boer, het haar 80-jarige skoonpa gesê hy het in sy leeftyd nog nooit soveel reën op een dag gekry nie. Nagenoeg 150 mm het in sewe uur by hulle geval.
Annette sê al die damme en vore het gebreek en oorgeloop. “Water het oor die pad gestroom oor al die laagwaterbruggies, met paaie wat gesluit was. Dit het soos ’n hele dam gelyk. Ek het lateraan vir mense gesê dit voel asof ons by die see bly.”
R390 between Venterstad and Steynsburg. Road closed. 15 Jan 2022 ?@zarsg? ?@AlgoaFMNews? ?@OFM9497? pic.twitter.com/e5bNFq0qnT
— Annette Steyn (@AnnetteSteyn1) January 15, 2022
Abraham boer met lusern, mielies, skaap en bees, en sê hy is gelukkig om nie werklik skade te gely het in sy aanplantings nie. Al die damme op sy plaas het wel gebreek. Die spruit wat na sy gronddamme loop – wat gewoonlik sowat 50 m breed is – het ná die reën 500 m wyd geloop.
Hoewel hy van die meeste reën in die omgewing gemeet het, het sy bure soortgelyke syfers aangeteken. Van sy bure se damme 20 km hoër op teen die spruit wat oor Abraham se plaas loop, het ook gebreek en al die water is by hom verby. Dit het verder bygedra het tot die verspoelings.
Erasmus sê die reënseisoen by hom het redelik vroeg in November al begin, hoewel die seisoen nie vir alle boere by Noupoort, Middelburg, Colesberg en Cradock so vroeg opgedaag het nie.
“Die veld by my is al redelik dig, wat maak dat harde buie nie soveel skade aanrig nie.”
Volgens die Steyns kon hulle nog net by hooggeleë dele uitkom, en nie op die groot vlakte waar die meeste reën geval het nie, om die omvang van die moontlike skade te bepaal.
Annette sê die diere was nie in die vlaktekampe is waar dit so vreeslik baie gereën het nie. Tot voor die naweek het hulle gereelde en normale reën vir dié tyd van die jaar aangeteken.