
Hoewel swaar reën in die laaste 10 dae van November oor dele van Suid-Afrika uitgesak het, is daar steeds gebiede wat nog nie goeie reën gehad het nie. Dit sluit die westelike binneland in, maar ook plekke in die sentrale en oostelike dele.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê wydverspreide goeie reën het nog nie oor die westelike binneland voorgekom nie. Waar in Oktober wel goeie neerslae gemeet is, het die baie hoë temperature in November die uitwerking van daardie reën geneutraliseer en duur droogtetoestande voor. Hoewel die plantegroei in hierdie gebiede wel gestimuleer is, is dit hoofsaaklik pioniersgewasse wat min droëmateriaal lewer.
Hy sê weens baie min reën voor 25 November oor dele van die Noord-Vrystaat en aangrensende dele van Noordwes en Mpumalanga kan somergraanaanplantings in dié gebiede laat wees. Die optimale planttyd in die streke is van middel Oktober tot middel November.
In ander gebiede in die sentrale en oostelike dele van Suid-Afrika is aanplantings redelik voltooi. Weswaarts is aanplantings ook goed op dreef, hoewel droë en warm toestande aanplantings belemmer het. Hierdie gebiede kan nog tot ongeveer einde Desember aanplantings doen.
’n Nat Desember?
Van den Berg sê voorspellings op mediumtermyn dui op reën van 40 mm en meer oor die Oos-Kaapse kusgebiede en die aangrensende noordelike dele in die eerste helfte van Desember. Hoewel reën oor die steeds baie droë sentrale en suidelike binneland van die Oos-Kaap op plekke soos Jansenville, Steytlerville, Willowmore en Aberdeen moontlik is, lyk die neerslae redelik lig met ’n paar geleenthede waar van 5 mm tot 10 mm kan voorkom.
In KwaZulu-Natal, Mpumalanga, die suidelike dele van Limpopo en die Oos-Vrystaat kan meer gereelde en swaarder neerslae voorkom. Reënval vir bykans die hele Desember kan bogemiddeld wees met min sonskyn. Dit lyk veral asof swaarder neerslae gaan voorkom in die laaste twee weke van Desember en dat Kersfees nat kan wees.
Minder reën is moontlik oor Limpopo met die uitsondering van die suidoostelike dele nader aan die Laeveld. In die laaste tien dae van Desember verbeter die kans op reën oor die grootste deel van Limpopo.
In Noordwes is enkele buie moontlik rondom 4 en 5 Desember, terwyl toestande vir reën baie goed lyk vanaf ongeveer 8 tot 17 Desember en vanaf 23 Desember. Swaar en aanhoudende reën is moontlik in die laaste week van Desember en die eerste week van Januarie.
In die Vrystaat kan reën verwag word vanaf ongeveer 3 Desember, hoewel minder reën oor die Suidwes-Vrystaat kan voorkom. Swaar reën is veral moontlik teen einde Desember en begin Januarie.
Die kans op reën bly op kort termyn redelik ongunstig in die sentrale en veral westelike dele van die Noord-Kaap. Die kans op reën verbeter in dié gebied teen 9 Desember en in die laaste week van Desember.
Namibië het nog baie min reën gehad, hoewel daar begin November redelik goeie neerslae in die noordelike tot noordoostelike dele was. Meer reën het in Botswana voorgekom, terwyl Zimbabwe ook nog min reën gehad soos gesien kan word in die vlak van die Karibadam, wat op ongeveer 28% staan.
Winterreëngebied
Van den Berg sê wat die winterreëngebied betref, is verdere reën moontlik in die eerste twee weke van Desember.
Hoewel nie swaar neerslae verwag word nie, kan ligte reën van 5 mm tot 10 mm voorkom wat tesame met die baie bewolkte toestande die lugvog gaan verhoog, blare nat laat bly en dus siekteprobleme kan veroorsaak by druiwe en vrugte.
Van ongeveer 5 tot 11 Desember word nog reën oor die Suid-Kaap en Tuinroete voorspel.