Die afgelope somer se milde reën is aanvanklik oral verwelkom, maar namate dit aanhou reën het, is baie skade aan somergewasse in die Sentraal- en Oos-Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga aangerig.
Dit was nie net die nat toestande wat die gewasse geraak nie. Die kleiner getal hitte-eenhede en die aanhoudende bewolkte toestande het die plante se groei benadeel.
Daarby is die graanopbrengs ook ernstig deur versuiping beperk weens die staande water in lande. Om alles te kroon, het ál die groot opgaardamme in die Oranje- en Vaalrivierstelsel oorgeloop en vloedskade laer af by Bloemhof en langs die Benede-Oranjerivier veroorsaak.