Die kans dat ’n La Niña-stelsel in die komende somer gaan ontwikkel, is tans 50%, wat dubbel die normale waarskynlikheid is, sê die Australiese buro vir meteorologie.
Luidens ’n verklaring sê die buro klimaatmodelle dui aan dat ’n negatiewe Indiese Oseaan-dipool (IOD) gedurende die winter kan ontwikkel. La Niña en ’n negatiewe IOD is albei gunstig vir reënval en warmer temperature vir die grootste deel van die noorde van Australië in die komende maande. Plaaslike weerkundiges konsentreer gereeld op toestande in Australië omdat dié land se weerstoestande baie met plaaslike weersomstandighede ooreenstem omdat die twee lande op dieselfde breedtegraad lê.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, het vroeër aan Landbou.com gesê die verwagting is dat die komende somer weer natter toestande kan bring, met ’n La Niña-stelsel wat tot ten minste Januarie 2023 kan voorkom.