
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n geel vlak 3-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën wat tot die verspoeling van paaie en informele nedersettings in die suidwestelike dele van die Wes-Kaap kan lei. ’n Geel vlak 2-waarskuwing is uitgereik vir skadelike golwe tussen Alexanderbaai en Plettenbergbaai.
’n Sterk koue front bereik vandag die Noord- en Wes-Kaap en sal teen môreoggend na die Oos-Kaap uitbrei.
Maksimum temperature van slegs 10 °C of minder word vir sommige plekke in die suidelike hooggeleë gebiede van die Namakwa-streek in die Noord-Kaap en Wes-Kaapse binneland voorspel. Oor die algemeen kan nat en koue toestande verwag word.
Vandag se weer
Mooi en koel tot warm weer word vir Gauteng, Mpumalanga en Limpopo voorspel.
In Noordwes en die Vrystaat word mooi en warm weer aanvanklik verwag. Dit sal later gedeeltelik bewolk word oor die sentrale en westelike dele van Noordwes. Gedeeltelik bewolkte weer, asook enkele buie en donderbuie word later vandag in die Vrystaat verwag.
Die weerdiens voorspel gedeeltelik bewolkte, winderige en koel tot warm weer vir die Noord-Kaap, met plek-plek enkele buie en donderbuie. Dit sal vanmiddag bewolk word in die sentrale dele van die provinsie.
Bewolkte en koue weer word vir die Wes-Kaap voorspel, met wydverspreide buie wat oor die suidwestelike dele van die provinsie, aangrensende binneland en suidkus verwag word.
Gedeeltelik bewolkte en koel tot warm weer met enkele buie en donderbuie word vir die Oos-Kaap voorspel.
Die weerdiens voorspel mooi en warm weer vir KwaZulu-Natal. Dit sal egter gedeeltelik bewolk in die noorde van die provinsie wees.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.