
’n Frontale stelsel kan rondom 15 April neerslae van tot 10 mm oor veral die suidelike kusgedeeltes van die winterreëngebied tot gevolg hê. Die eerste werklike goeie winterreënval kan verwag word in die eerste week van Mei, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Die kans vir baie koue toestande met swaar ryp voor einde April en die eerste week van Mei is swak, sê Van den Berg. Minimum temperature gaan onder 10 °C begin inbeweeg, maar nie onder 5 °C voor ten minste die middel tot einde van April nie.
Wat reënvalvooruitsigte oor die res van die land betref, is enkele buie moontlik oor die sentrale dele wat strek vanaf Namibië in die noordweste en suidooswaarts oor die Kalahari, Noordwes, die Vrystaat en ooswaarts. “Daar is steeds tropiese vog wat oor Namibië afbeweeg en reën kan veroorsaak vanaf 30 Maart tot 2 April, asook rondom 6 April oor die gedeeltes soos hierbo beskryf. Baie min of geen reën word voorspel oor die droë westelike en suidelike binneland tot ten minste middel April.”
’n Sterk tropiese laagdrukstelsel gaan in die eerste week van April in die gebied oos van Madagaskar ontwikkel, maar dit gaan nie weswaarts nader aan Afrika beweeg nie. Die stelsel gaan tropiese vog oor Sentraal-Afrika en Tanzanië ooswaarts laat konsentreer. Dit sal ’n ongunstige impak hê op die hoeveelheid tropiese vog wat oor Namibië en Suid-Afrika beweeg.
La Niña en internasionale toestande
Die La Nina-verskynsel het nou verswak tot in die neutrale fase met al die Niño-gebiede se seeoppervlaktemperature wat binne die reeks van 0,5 °C warmer tot 0,5 °C koeler as normaal is. Die effek van die La Niña-stelsel kan egter tot die eerste deel van Mei ’n groot invloed op weerstelsels uitoefen, terwyl dit daarna baie min impak behoort te hê vir die winter.
Van den Berg sê die uiterste weertoestande wat tans oor die suidooste van Australië en die Stille Oseaan aan die weskus van Amerika voorkom, maak dit duidelik dat die La Niña-verskynsel steeds weerstelsels beïnvloed.
Oorstromings het in die suidoostelike dele van Australië voorgekom met van 200 mm tot 500 mm wat binne dae van Sydney tot Brisbane voorgekom het. In Denver, Colorado, in die suidwestelike dele van Amerika, het meer as 82 cm sneeu in Maart voorgekom. Dit word slegs oortref deur die byna 90 cm sneeu wat in Maart 2003 daar voorgekom het.
Oorstromings kom gereeld tydens sterk La Niña-stelsels in die suidooste van Australië voor. Ernstige oorstromings het in Maart in La Niña-jare soos 1970, 1975, vanaf Maart tot Mei 1988 asook in Maart en April van 2010 en 2011 voorgekom, sê Van den Berg. “Hierdie jare het ook bogemiddelde reënval oor Suider-Afrika tot gevolg gehad en daar was selfs in Junie 2011 oorstromings in die sentrale binneland van Suid-Afrika.
“Dus is daar nog ’n kans vir swaar reën in April en Mei oor Suider-Afrika, maar die verswakking van die La Niña-stelsel kan ook die kans op swaar reën oor die somerreëngebied vanaf veral Mei en Junie verswak.”