Die sterk La Niña-stelsel wat goeie reënneerslae dié seisoen oor die somerreënstreek veroorsaak het, gaan na verwagting nog ’n paar maande ’n invloed uitoefen op weerstoestande aangesien atmosferiese toestande redelik gevestig is.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê sterker as normale passaatwinde in die westelike Stille Oseaan bly voortduur. Dit hou die huidige La Niña-verskynsel steeds redelik sterk, hoewel dit reeds verby die spits van ontwikkeling is.
“Onder die see-oppervlak van die Niño-gebiede het watertemperature weer afgekoel en al die atmosferiese aanduiders, soos die sterker passaatwinde, minder bewolkte toestande oor die Niño-gebiede asook die Suidelike Ossilasie-indeks (SOI), het steeds sterk La Niña-aanduiders.”