
Die bufferkapasiteit van al die groter damme is binne 20% van hul totale kapasiteit.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike weerkundige, sê met die gunstige vooruitsigte op reën kan damme binne ’n kort tyd weer oorloop. Grootskaalse oorstromings langs die Benede-Oranjerivier is in Februarie vanjaar net-net vrygespring omdat die Vaaldam redelik leeg was en baie water kon opvang. Dit het die Vaalrivier se watervloei beperk, terwyl die Oranjerivier baie sterk gevloei het via die oorvol Gariep- en Vanderkloofdam.
Totdat die eerste goeie somerreën geval het, sal die kans op veldbrande hoog bly weens die effek van sterk winde. Dit gaan verder verhoog wanneer donderweer begin voorkom in die gebiede wat nog nie reën gehad het nie, maar wel nog baie brandbare materiaal het soos die Kalahari en noordelike dele van die Karoo wat vanjaar baie gras het ná die afgelope seisoen se goeie reën.
Somerreënval
Voorspellings vir weerstoestande vir dié somer is baie soortgelyk aan die voorspellings vir die 2020-’21-seisoen, met ’n La Niña-verskynsel wat ontwikkel. Dit beteken daar is ’n goeie kans op gemiddelde tot bogemiddelde reënval vanaf Oktober tot Desember 2021 oor die oostelike dele van Suid-Afrika. Dit sluit in die grootste deel van die Oos-Kaap, veral die noordelike dele; KwaZulu-Natal; Mpumalanga; die Oos- en Sentraal-Vrystaat; Gauteng; die suidelike dele van Limpopo en die oostelike dele van Noordwes. Heelwat reën word ook verwag oor die oostelike dele van Botswana en die westelike dele van Zimbabwe.
Vanaf Desember kan die reënvalpatroon weswaarts begin migreer met meer reën oor die sentrale tot westelike dele van die land, wat dan insluit die res van die Vrystaat en Noordwes; die sentrale tot oostelike dele van die Noord-Kaap; die noordwestelike dele van die Oos-Kaap asook die grootste deel van Namibië, met die uitsondering van die suidwestelike dele van dié land. Indien die La Niña-verskynsel sterk genoeg is en ander faktore ook gunstig is, kan reën ook oor die suidwestelike dele van die Noord-Kaap voorkom.
Droër toestande is moontlik oor die oostelike dele van die land rondom Februarie en Maart 2022.
Winterreënstreek
Die koringoes moet in die volgende weke ingesamel word en reën in oestyd kan ’n groot risiko vir gehalte inhou. Dit lyk asof daar ’n groot kans is op reën en nat toestande vanaf ongeveer 15 tot 20 Oktober oor die Swartland en die Rûens.
Met die verwagte goeie kans op reën oor die somerreëngebied later in die somer kan dit ook beteken dat baie sterk suidoostewinde in die somer kan voorkom.
Daar is ’n hoë waarskynlikheid dat somerreën kan voorkom in die winterreëngebied in die mid- tot laatsomer, wanneer somerstelsels baie ver wes oor Namibië en die Noord-Kaap suidwaarts beweeg en dan ooswaarts draai. Dit kan ook die kans op hael verhoog, sê Van den Berg.