Die Suidelike Ossilasie-indeks (SOI) wat een van die hoofaanduiders van see-oppervlaktemperature in die Niño-gebiede is, het van Januarie tot Februarie versterk. Die SOI werk op ’n skaal van -30 tot +30, met ’n waarde van -30 wat ’n sterk El Niño-stelsel aandui, en +30 wat ’n sterk La Niña-stelsel aandui.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê die SOI se 30-dae-gemiddelde het teen 15 Januarie op +20 gestaan, en teen 7 Februarie het dit tot +9,4 verswak. Dié gemiddelde het egter teen 12 Februarie weer tot +13,05 versterk. Dié versterking het plaasgevind hoewel die see-oppervlaktemperature in die Niño-gebiede ongeveer neutrale vlakke bereik het.
“Die situasie veroorsaak dat die voorspelbaarheid van veral reënval tans baie swak is, hoewel dit egter lyk asof die effek van die La Niña-stelsel tans sterker is as wat aanvanklike voorspellings aangedui het. Die implikasie is dat terwyl die SOI op La Niña-vlakke bly, meer reën in die komende maande kan voorkom, veral in April en Mei.”