Die El Niño Suidelike Ossilasie (ENSO) is die benaming van die verskynsel van variërende see-oppervlaktemperature in die sentrale Stille Oseaan met die geassosieerde reaksie op see-oppervlaktemperature deur oorhoofse klimaatstelsels. Dit bestaan uit twee komponente, naamlik El Niño en La Niña, asook tussen-in of neutrale periodes. Die langtermyngemiddelde verwagte voorkoms van beide El Niño- en La Niña-stelsels is elk tussen 20% en 30% van jare, met neutrale periodes in ongeveer 40% tot 50% van die jare of seisoene.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweekundige, sê die huidige La Niña-stelsel wat die laaste in ’n reeks van drie agtereenvolgende La Niña-episodes was, is nou ongeveer in ’n neutrale periode vanaf middel Februarie. Die verskillende Niño-gebiede stuur egter steeds gemengde seine uit met die gebiede naaste aan Suid-Amerika wat reeds effens El Niño-neigend is (0,8 °C warmer as normaal), die middelste Niño-gebiede wat ongeveer neutraal is (0,5 °C en O,1 °C koeler as normaal onderskeidelik) en die Niño-gebied naaste aan Australië (Niño-4), nog effens La Niña-neigend (0,6 °C koeler as normaal).
“Die Suidelike Ossilasie-indeks (SOI), wat die reaksie van die klimaat op die onderliggende see-oppervlaktemperature verteenwoordig, reageer egter baie stadig en was teen einde Februarie steeds La Niña-neigend. Dit beteken dat die oorhoofse klimaatstelsels steeds redelik La Niña neigend is wat voorspellings baie onseker maak.