Me. Margaux Nel, wynmaker by Boplaas, sê die hael het die middag van Woensdag 29 Oktober twee keer geslaan. Hulle is besig om die skade aan hul wingerde te bepaal, maar aanvanklike skattings staan op 50%.“Van die vrugteboere het tot 90% van hul oes verloor. Die vrugte is afgeslaan en lê nou onder die bome. Die bietjie wat nog aan die bome hang, het almal merke op, wat dit onbruikbaar maak.”
Sy sê skade onder die wynboere wissel. Van Boplaas se wingerde het nie meer ’n blaar nie, maar daar is ook ’n gedeelte waarvan slegs 10% beskadig is.Nog ’n probleem is dat die wingerde besproei is kort voor die reën gekom het. Nou is die wingerde so nat dat ’n mens dit nie kan bespuit nie. Gevolglik is die risiko van siektes groot.
“Ons het gisteraand weer reën gehad. Dit is baie welkom vir die damme en die veld, maar vir die vrugte en die druiwe is dit nie ideaal nie.”
Sy sê dit is gelukkig nog vroeg in die seisoen en hopelik sal daar nog lootjies in die wingerd wees wat ’n paar trosse sal gee.
Mnr. Boets Nel van De Krans het aan Oudtshoorn Courant vertel hy het 80% van sy appelkoos- en perske-oes aan die hael afgestaan, asook 40% van sy druiwe. Volgens hom is dit die eerste keer sedert 1993 dat sulke haelskade voorkom.
Mnr. Willie Barry sê die hael het ’n blok van 5,6 ha basteruiesaad heeltemal verwoes. Sy wingerde is ook stukkend geslaan. “Tussen my en die dorp is vrugtebome, wingerde, alles stukkend geslaan. Ek het ook uie waarvan een blok 20% en ’n ander 40% beskadig is. Dit is ongelukkig deel van die lewe, maar dit bly sleg.”
Wisselvallige Oktober
Mnr. Lohan Fourie, voorsitter van die Calitzdorp-landbouvereniging, sê talle vrugteboere het die afgelope ses jaar bome weens die droogte verloor. Oktober vanjaar sal volgens hom onthou word as een van baie wisselvalligheid en baie verskillende emosies.
“Op 4 Oktober het ’n koue front redelik laat ingekom het en rypskade vir veral die vrugteboere en wingerde in laergeleë gebiede tot gevolg gehad het. Dit het die manne se gemoed ’n bietjie geknou.
“Op 21 Oktober het ons ons beste reën vir die jaar gekry. Die gemiddelde reënval was 40 mm en die Gamkaskloofdam, wat ’n stadium amper leeg was, was byna 30% vol, wat natuurlik almal se gemoed gelig het, want almal was bekommerd oor hul oeste.
“ ’n Week ná die reën en die blydskap het ons weer ’n donderbui gekry wat met hael gepaardgegaan het. Die wingerd- en appelkoosboere het van 40% tot 80% haelskade op hul blokke gekry het. Van die uiesaadboere se oeste is heeltemal verwoes.”
Hy sê van die boere het versekering, maar ander nie. “Sommige kon net versekering bekostig wat hul insetkoste sou dek. Die winste wat daardie boere sou gehad het, is nou daarmee heen, wat natuurlik gemengde emosies tot gevolg het. ’n Mens is altyd dankbaar vir enige druppel reën wat val, maar die skade wat daarmee gepaard gaan, is genoeg om enige mens te knak.”
Hy sê die Gamkarivier loop weer en dat boere danksy die vol slote vir die eerste keer in ses jaar weer servituutwater het. “Ons hoop dat dit darem ’n week sal duur.” Die Warmbad-gebied is steeds baie droog.