Volgens die weerdiens het ’n tydperk van droë, wolklose weer die afgelope paar dae gelei tot ’n maksimale hoeveelheid sonskyn wat maksimum temperature daagliks laat toeneem het.
Daarmee saam het ’n sterk bolughoëdrukstelsel, of antisikloon, weerpatrone oor Suider-Afrika, onder meer groot gedeeltes van Namibië, Botswana en die noordelike helfte van Suid-Afrika, die afgelope week bepaal. Hierdie stelsel blok volgens die weerdiens tropiese vog wat die aanvang van somerreën belemmer.
Die hittegolf sal na verwagting tot Vrydag 7 Oktober oor Gauteng, die oostelike gedeeltes van Noordwes, die oostelike Hoëveld van Mpumalanga en die suidwestelike Bosveld van Limpopo voortduur.