
’n Frontale stelsel wat Woensdag uit die suidweste oor die Wes-Kaap gaan inbeweeg en ligte reën na die suidwestelike dele van dié provinsie en die wynland kan bring, sal ook lafenis met koeler weer bring vir die dele wat vandeesweek hittegolftoestande beleef.
Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê 30 mm of meer reën kan Woensdag en Donderdag oor die Rûens en Suid-Kaap uitsak. Dit kan uiters nadelig wees vir die stroop van wintergrane. Ligter neerslae wat verder noordwaarts kan uitbrei, is ook moontlik oor die Oos-Kaap.
Wat temperature betref, kan die hittegolftoestande temperature van 40 °C en hoër veroorsaak oor die westelike Kalahari, asook wes en suidwes van Upington. Die noordwestelike dele van Limpopo gaan ook baie warm temperature ervaar.
Van Donderdag tot Saterdag kan minimum temperature oor die suidelike dele van die Vrystaat en die aangrensende dele van die Oos-Kaap daal tot onder 10 °C vanweë die koue front wat koue lug gaan laat inbeweeg, maar ryp word nie verwag nie.
Van Donderdag af verbeter die kans op reën oor die noordoostelike dele van die somerreëngebied, wat insluit KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Gauteng, Limpopo, die Noordoos-Vrystaat en die oostelike dele van Noordwes. Redelike swaar neerslae van meer as 30 mm is tot ongeveer 28 November moontlik oor veral Gauteng, die Hoëveld, die Noordoos-Vrystaat en dele van die Laeveld en Noordwes.
In die tweede week van Desember is daar aanduidings van redelike swaar reën oor dieselfde gedeeltes, wat dan weswaarts kan uitbrei tot in die oostelike dele van die Noord-Kaap, die hele Noordwes en die noordelike dele van die Oos-Kaap.
“Dit lyk dus asof daar heelwat reën kan voorkom vanaf die laaste deel van November, maar veral in die eerste deel van Desember,” aldus Van den Berg.