
Van die plekke wat die afgelope naweek reën gekry het, is Koppies (80 mm), Kroonstad (76 mm), Vrede (62 mm), Standerton (61 mm), Coligny (60 mm), Marquard (56 mm), Vredefort (47 mm), Amersfoort (48 mm), Middelburg, Mpumalanga (42 mm) en Potchefstroom (38 mm).
“Daar is dus reeds ’n redelike klomp afloopwater wat in die volgende twee tot drie dae in die Vaalrivierstelsel gaan invloei,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Voorspellings vir die eerste twee weke van Desember dui op ’n verdere 50 mm tot 100 mm in die opvanggebied van die Vaalrivier. Neerslae sal na verwagting ligter wees in die opvanggebied van die Gariepdam, hoewel neerslae in dié gebied plek-plek tot 50 mm kan wees.
“Die risiko bly dus groot vir ’n tweede spits van ’n vloed in die eerste twee weke van Desember in veral die Benede-Oranjerivier.”
Ergste vloed sedert 2010
Van den Berg sê die vloedtoestande wat die afgelope twee weke in die Vaal- en Oranjerivierstelsel voorgekom het, is van die ergste sedert die 2010-’11-somerseisoen, veral rondom Keimoes. Noodwalle is op plekke oorstroom en wingerde het onder water gestaan.
Die situasie is potensieel rampspoedig vir druiwe- en rosyntjieboere in die gebied wat reeds die afgelope twee seisoene groot skade gely het weens reën in die oestyd.
Die Oranjerivier se vlakke het die naweek vinnig afgeneem en uitdroging kan begin plaasvind. “Dit is nie net die vloedskade wat verliese veroorsaak nie, maar ook droogteskade waar besproeiingspompe uit die rivier verwyder moes word en gewasse nie besproei kon word nie. Dit was baie warm, op plekke tot 40 °C of selfs warmer, in hierdie gebiede in die afgelope twee weke en gewasse wat op die sogenoemde buitegrond of hoër gebiede verder weg van die rivier geleë is, het droogteskade gekry.”
Van den Berg sê van die landerye en wingerde naby aan die rivier lê binne die 1:10- of 1:20-jaarvloedlyn. Hoewel met noodwalle voorsorg getref word, is die instandhouding dikwels nie na wens nie en ook baie duur. Die staat se herstelwerk aan noodwalle kan ook baie lank duur.
Van den Berg sê die meeste grootskaalse vloede in die Vaal- en Oranjerivierstelsel kom tydens matige tot sterk La Niña-gebeurtenisse voor, of wanneer daar meerjarige La Niña-verskynsels is, soos vanjaar. “So byvoorbeeld was daar opgetekende vloedtoestande tydens La Niña-seisoene in 1925 toe rekordhoogtes in die Benede-Oranjerivier bereik is, asook in 1955-’56-seisoen, van 1974 tot 1976, die 1988-’89-seisoen en 2010 tot 2012. Min ander grootskaalse vloede in die Vaal- en Oranjerivierstelsel het voorgekom tydens seisoene waarin ’n La Niña-stelsel nie voorgekom het nie.”
Van den Berg sê klimaatsverandering kan ook ’n rol speel as meer reën per reënbui, hoër intensiteit van reën of meer reën gekonsentreer oor korter tydperke al hoe meer begin voorkom. Dit is veral belangrik wanneer toestande reeds baie nat is.
Somergraantoestande
Die droë tydperk van 15 tot 25 November was voordelig vir boere in veral die Oos-Vrystaat en Mpumalanga. Die neerslae vanaf 25 November kan beteken dat boere aanplantings moet stopsit. “Dit kan veroorsaak dat dit heeltemal te laat word om die finale aanplantings te kan doen. Met die verdere reën wat in veral die eerste twee weke van Desember verwag word, kan die probleem om te plant vererger en selfs skade aan reeds aangeplante graan veroorsaak met te veel reën en te min sonskyn.”
In Noordwes is planttoestande oor die algemeen gunstig met minder reën en hoër temperature. Die baie sanderige grond van veral die Noordwes-Vrystaat en aangrensende dele van Noordwes is steeds te nat om te plant en verdere reën kan probleme veroorsaak.
Winterreëngebied
Toestande vir reën oor die winterreëngebied het verbeter. Reën kan in die eerste week van Desember oor die Overberg en Suidkus voorkom.
Baie warm toestande word veral oor die gebied verwag tot Woensdag (30 November). Die Suid-Afrikaanse weerdiens het waarskuwings uitgereik vir die erge warm toestande oor die Weskus, Suidkus en aangrensende dele van die binneland, met temperature wat plek-plek bo 40 °C kan draai.
Die voorspelde reën en bewolkte toestande kan temperature weer laat daal in die eerste week van Desember, met toestande wat van die tweede week van Desmeber weer warmer sal word, sê Van den Berg.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.