
Boere aan die Benede-Oranjerivier moet hulself gereed maak vir vinnig stygende watervlakke. Hoë vlakke word veral vanaf die komende naweek verwag.
Mnr. Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie, wat die dam- en riviervlakke in die Vaal- en Oranjervierstelsel daagliks monitor ten opsigte van hoe dit boere aan die Benede-Oranje kan raak, sê die departement van water en sanitasie verwag watervloei van 3 600 kumek teen 23 Januarie by Katlani.
Dié punt is net suid van Douglas. Dit is die eerste punt waar die riviervlak gemeet word ná die samevloeiing van die Vaal- en Oranjerivier.
“Van hier af is dit rofweg ’n dag voordat ’n soortgelyke vloei by Prieska gemeet kan word, nog ’n dag vir Groblershoop, nog ’n dag vir Upington en dan nog ’n dag vir Kakamas.
“Dit is egter net rofweg, want hoe hoër die vloei raak, hoe vinniger vloei die water.”
Fourie verwag dat die vloei by Katlani ná 23 Januarie nog verder kan verhoog tot sowat 4 000 kumek. “Dit is 1 000 kumek meer as verlede jaar, wat beteken die rivier kan op die breë plekke minstens 1 m hoër vloei as verlede jaar. Dit sal ongeveer 1,2 m hoër wees as die vorige hoë vlak aan die begin van vandeesmaand.”
Volgens die departement se inligting was die Vaaldam vanoggend (18 Januarie) 110,3% vol, die Bloemhofdam 112%, Gariepdam 110,7% en die Vanderkloofdam 106,5%. Die departement sê nog twee sluise is gister by die Vaaldam oopgemaak.
Fourie sê in dié stadium hou hy veral die vloeivlakke in en uit die Bloemhof- en Vanderkloofdam dop. Vanoggend het 1 655 kumek in en 1 400 kumek uit die Bloemhofdam gevloei en en 1 287 kumek in en 971 kumek uit die Vanderkloofdam.
Die departement verwag egter vandag groot stygings in die uitvloei van die Bloemhofdam. Sien die grafiek hieronder. Dit toon dat die vloei vandag tot 1 800 kumek kan styg.
“Saam met die vloei in die Riet- en Modderrivier gaan dit ’n invloei van meer as 2 000 kumek in die Oranjerivier gee,” sê Fourie.
Die departement verwag vir die volgende paar dae ’n groot, geleidelike styging in die uitvloei by die Vanderkloofdam.
Fourie sê die invloei in die Gariepdam vanuit die Caledon- en Oranjerivier sal na verwagting binnekort 3 000 kumek wees.
Impak op boere
Fourie sê vir boere aan die Benede-Oranje is dit verkieslik dat die vloei onder 3 500 kumek bly, maar dit lyk asof die groot hoeveelheid water wat op pad is, beslis dié vlak gaan verbysteek.
Die hoër watervlakke raak elke boer verskillend. Fourie sê hy gee daarom die syfers en verwagtings deur soos wat die departement dit daagliks bywerk. Boere weet hoe vorige hoë watervlakke hulle geraak het.