Die toestande wat reeds voorgekom het, het gepaard gegaan met sneeu, hael, stormsterk wind en swaar reën.
“Hoewel die huidige La Niña-stelsel tans as ’n swak tot matige La Niña beskryf word, was dit teen middel September reeds baie verder ontwikkel as die ooreenstemmende tydperk in 2021,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Daarmee saam is die Indiese Oseaan ook koeler teen die Afrika-kuslyn as die ooreenstemmende tydperk in 2021, wat baie gunstig is vir reën in komende maande.”
La Niña-verskynsels dui gewoonlik ’n redelik laat reënseisoen aan, vanaf ongeveer November, maar die effek van die Indiese Oseaan kan vanjaar die reënseisoen vervroeg omdat dit reeds tropiese vog oor Sentraal-Afrika begin invoer het met die Indiese Oseaan-hoogdrukstelsel wat nader aan die vasteland geleë is as in ander jare.