
’n Intense koue front wat oor die westelike gedeelte van die Atlantiese Oseaan ontwikkel, sal Donderdag en Vrydag reën en baie koue toestande oor die westelike gedeeltes van Suid-Afrika veroorsaak voordat dit Saterdag na die suidelike en sentrale gedeeltes versprei, waarsku die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD).
Volgens die SAWD sal wydverspreide reënbuie Donderdagmiddag oor die westelike gedeeltes van die Wes-Kaap voorkom en dan oornag na die westelike en suidelike gedeeltes van die Noord-Kaap versprei.
Reënval van 20 mm tot 30 mm word hier verwag, terwyl reënval van 40 mm tot 50 mm oor die Suidwes-Kaap verwag word. Oorstromings kan voorkom.
Sneeuval kan volgens die SAWD vanaf Vrydag oor hooggeleë dele van die Wes-Kaap, asook die suidelike en westelike hooggeleë gebiede van die Noord-Kaap voorkom. Dit sal na verwagting Saterdag na hooggeleë gebiede in die Oos-Kaap en die Drakensberge in KwaZulu-Natal versprei.
Die SAWD waarsku dat dit tot die sluiting van bergpasse kan lei. Veeboere word ook gemaan om hul kleinvee vroegtydig na veilige beskutting te skuif om vrektes te voorkom.
Sterk winde van 40 km/h tot 60 km/h kan voor die koue front se koms oor veral die binneland voorkom. Dié winde kan omstandighede vir vragmotors op paaie in veral die Wes-Kaapse binneland, die Oos-Kaapse binneland, die Noord-Kaap en westelike gedeeltes van die Vrystaat bemoeilik.
Die SAWD waarsku die publiek om nie vure, sigarette of vuurhoutjies in die oopte aan te steek nie aangesien omstandighede uiters gunstig vir wegeholveldbrande is.
Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê die provinsie se rampbestuursentrums is op gereedheidsbasis en vra dat die publiek kennis neem van die SAWD se waarskuwings.
Damme in die Wes-Kaap is tans 79% vol teenoor 69% verlede jaar.