
’n Aanskuif van die laaste rypdatum word reeds die afgelope dekade aangeteken, maar veral die afgelope vyf seisoene, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
Temperature onder vriespunt het van Saterdag 16 Oktober tot Maandag 18 Oktober oor dele van die Suidwes-Vrystaat en aangrensende dele van die Noord- en Oos-Kaap voorgekom. Lae minimum temperature van 2 °C en laer is die naweek by onder meer Kroonstad (0,5°C), Bothaville (1,8°C), Hoopstad (1,7 °C), Marquard (1,5 °C), Hartswater (1,8 °C) en Leeudoringstad (2 °C) aangeteken. Temperature in laaggeleë dele waar dit windstil was, kon tot 5 °C laer gewees het omdat koue lug swaarder is as warm lug en dus afsak, volgens Van den Berg.
Dié lae temperature het gevolg ná ’n paar dae met maksimum temperature van sowat 35 °C.
Skade
Van den Berg sê veral die pekanneut-oes en koring wat in baie gevoelige groeistadiums is, het skade gely weens die skielike lae temperature.
Met die aanskuif van die laaste rypdatums word dagtemperature hoër in die laatwinter en vroeë somer, terwyl nagtemperature in sekere gebiede daal. Die verskil tussen dag- en nagtemperature word dus groter.
“Dit verhoog die kwesbaarheid van gewasse vir temperatuurverwante skade, soos ryp en hitte, omdat gewasse nie dié skommelings kan deurstaan en daarby aanpas nie. Baie warm toestande stuur aan plante die sein om groei en ontwikkeling te versnel, terwyl dit met kouer nagte die sein kry om groei te vertraag.”
Is nog koue op pad?
’n Volgende koue front gaan Suid-Afrika die komende naweek bereik, en weer temperatuuronstabiliteit oor die suidelike dele van die land veroorsaak.
Van den Berg sê volgens voorspellings gaan temperature teen 23-25 Oktober weer daal oor die suidelike dele van die land tot so ver as die sentrale dele van die Noord-Kaap en suidelike dele van die Vrystaat, asook die noordelike dele van die Oos-Kaap. Na verwagting kan minimum temperature onder 10 °C voorkom. Tans word temperature benede 5 °C nie voorspel nie, maar die temperature moet op kort termyn dopgehou word vir die moontlikheid van skerper dalings.
Verder kan reën van 10 mm of meer van 21-22 Oktober oor die Swartland en Stad Kaapstad voorkom, terwyl ligter neerslae in die Suid-Kaap en aan die Tuinroete moontlik is.
Verdere reën oor die Suid-Kaap en verder aan die ooskus is ook moontlik vanaf die laaste twee dae van Oktober en die eerste deel van November.