
’n La Niña-verskynsel is in die meeste gevalle verantwoordelik vir bogemiddelde reënval gedurende November en Desember oor die oostelike en sentrale dele van die land, met die reën wat later in die seisoen na die westelike dele van die somerreënstreek uitbrei.
Buiten die bogemiddelde neerslae vir ’n Oktobermaand oor die westelike dele van Suid-Afrika het oormatige reënval tot middel November nog nie oor groot dele van die land voorgekom nie.
Die huidige weerpatroon wil tekens begin toon van baie swaar reën, soos vandeesweek in die Tuinroete, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. Die kans op swaar reën oor die sentrale tot oostelike en veral suidoostelike dele van die land vir die res van November en Desember lyk ook goed.
Wat beteken internasionale toestande vir SA?
Van den Berg sê die tekens van goeie reën kan ook gesien word in weerstelsels elders ter wêreld.
’n La Niña-stelsel bring gewoonlik droë toestande vir die grootste deel van Argentinië en die suidelike dele van Brasilië. Die seisoen tot op hede was baie droog in Argentinië, hoewel gemiddeld sowat 75 mm reën in die eerste helfte van November daar uitgesak het, wat help met toestande vir planttyd. Vooruitsigte vir die res van die somer in dié dele lyk egter redelik ongunstig. Hoewel aanplantings gedoen kon word, is die kans goed dat droër toestande die opbrengste in die tweede deel van die seisoen kan knou.
Volgens Van den Berg is dit tipies van ’n La Niña-verskynsel om droër toestande in die somer te veroorsaak oor veral die noordwestelike dele van Amerika se mieliestreek, terwyl dit natter toestande oor die noordwestelike dele van Amerika en die aangrensende dele van Kanada veroorsaak. Die huidige swaar reën en vloede in gebiede soos Brits-Columbië in Kanada is dus tipies van ’n La Niña-verskynsel se invloed.
Droogtetoestande in Oos-Afrika is ook ’n gevolg van ’n La Niña-stelsel in die somer. Droogte heers al die afgelope jaar of twee in lande soos Uganda, Kenia, Ethiopië en Somalië. Die vooruitsigte is tans negatief vir die komende seisoen.
In die tweede week van November het swaar reën oor die oostelike en suidoostelike dele van Australië voorgekom met waarskuwings vir oorstromings. Dié situasie is ook tipies van ’n La Niña-verskynsel.
“Uit die voorbeelde hierbo genoem, lyk dit asof die huidige La Niña-stelsel wel die normale globale patrone volg en dit beteken dat dit waarskynlik vir Suid-Afrika gaan geld. Die kans op ’n nat Kersfees en reën in die nuwe jaar lyk dus tans baie goed,” sê Van den Berg.